Toerlede
Thinus (Pottie) en Nida Potgieter
Pieter en Sonet le Roux
Eddie en Claire Kuhn
Coenie en Nicky Louw

vlnr agter : Nida, Sonet, Pieter,
Claire / vlnr voor: Coenie, Nickey, Thinus, Eddie
Foto geneem by Groot Boom in Namibia
+-20km vanaf Tsumkwe
Agtergrond
Die toer is oorspronklik al in April 2002 begin toe ‘n paar van ons
Kgalagadi en Mabusheba wou gaan verken gedurende September 2002. Ongelukkig moet mens nie vir Nida alleen los
om so ‘n ‘trippie’ te beplan nie. Wat eers ‘n langnaweek sou wees, word toe
later ‘n twee-weke okkasie. Nida en
Pottie was al so te sê, orals in Botswana, maar was nog nooit links om die
Kavango nie. So is daar begin beplan aan die ‘droë-trip’ (in teenstelling met
‘n ‘nat-trip’ wat see is) links om die Okavango. Daar is darem besluit ons die Kavango iewers sal sien, maar die
res, sal ‘n droë en stowwerige storie wees.
Paasnaweek was nog nie eers op ‘n kalender nie, maar Nida het mbv
Internet en sorgvuldige sterrekunde uitgewerk wanneer paasnaweek 2003 sal wees.
Ons het plekke begin boek. Soos dit ook
maar is, het van die toerbeplanners kop uitgetrek…sommige op die laaste
nippertjie. ’n Week voor ons sou ry, is Augrabies as eerste stop, uitgelos vir
regdeur ry vanaf Kaap/Paarl na Twee Rivieren.
Heelwat mense het gedink ons is van ons kop af, maar nou ja. Anyway,
hierna is hoe ons dit beleef het.
17 April 2003
Die Potgieters en Le Roux’s ry die middag deur en slaap op
Nieuwoudtville terwyl ander toerlede tot 17:00 op kantoor is. Praat van kan nie wag nie. Nida se verskoning was ook dat sy nie vir
Pottie so vroeg uit die vere sal kan kry nie.
Hulle oornag die aand in ‘n gastehuis op Nieuwoudtsville.
18 April 2003
Die hek by Twee Rivieren sluit 18:30, so die Louw’s vertrek 03:00 die
oggend vanuit die Paarl, met die Kuhn’s uit Tableview. Ons 2 gesinne ontmoet mekaar 04:00 anderkant
Malmesbury. Ons kry die res van die
geselskap (Le Roux’s en Potgieters) op Niewoudtsville vir ontbyt. Kry hulle 07:00 daar en eet heerlik by die
kafee. Na ‘n lang dag op die pad maak
ons dit sowaar tot op Twee Rivieren sonder enige drama.
So om en by 16:30 stop ons voor die hek. Pottie ry dadelik ‘n kraan af en die kampeerders langs ons se
plek oorstroom amper. Nida maak die aand vir ons ‘n hoenderpot met koes-koes,
sonder om die instruksies op die pak te volg.
Pottie ry later ook oor beide sy opblaasmatrasse wanneer hy per abuis
die bakkie aansit om die pomp aan die gang te kry, en gee ‘n doringboom in die
proses ook ‘n stewige stamp.

vlnr: Coenie, Nickey, Sonet, Pieter,
Nida – foto geneem deur Pottie by Twee Rivieren kamp.
19 April 2003
Vroeg uit die vere. Slaan kamp
op, kry ys en laaste aanvullings. Coenie se bakkie se battery het die nag
afgeloop. Pieter staan nader en eers
nadat Coenie se splinternuwe ekstra “heavy duty jumper leads” foutief blyk te
wees, start die Toyota met behulp van Pieter se Nissan en ou verweerde “jumper
leads”. Gooi Petrol in en vertrek na
Nossob. Heelwat Springbok, Gemsbok, Rooi
Hartebees en Blou wildebees. Sien ook
‘n paar leeus waar hulle onder ‘n boom lê en slaap. ‘n Toeris in ‘n blou Toyota Tazz blokkeer egter die gesig en ons
kon nie mooi fotos kry nie.
Pottie het wel probeer om in 2 wiel aandrywing bo-oor die sandwal en
Tazz te ry. Nida keer egter en niemand
kry seer nie. Arriveer op Nossob en die kamp is oorvol. Ons bespreking is wel
daar maar dit wil voorkom of die administrasie nie 100% is nie. Na
onderhandelings met die kamp bestuur bied hulle aan dat ons langs die
opwasgeriewe kamp, en vra darem om verskoning.
Ons kry egter gebruik van die vrieskas binne die vertrek. Pieter braai die aand vir ons ‘n varkrib of
twee. Kon geen ys by die kafee kry nie,
maar die kafee-bestuur beloof om ys gedurende die nag te maak.
20 April 2003
Ys by kafee word gerantsoneer tot 5 vriespakkies per klient. Binne minute is die hele ys-voorraad
uitverkoop. Vertrek sonder enige hartseer vanuit Nossob. Wees gewaarsku :- maak asb doodseker dat daar vir julle
staanplek is, moenie aanvaar dat indien jy betaal het, daar vir jou plek sal
wees nie. Nossob sien my egter nie gou
weer nie. Net so ‘n kilometer verder
gewaar ons ‘n trop jagluipers wat ‘n verdwaalde springbokkie bekruip. Ons wag
amper ‘n uur voordat die springbok besluit genoeg is genoeg en spore maak. Die pad is heelwat beter as wat verwag is,
en ons stop so 11:00 se kant vir ontbyt onder ‘n groot doringboom. Kom vroeg
aan by Motopi- kampgebied (‘n deurgangskamp).
Die geriewe is beperk tot ‘n sement blad waarop kos gekook en gebraai
kan word. Ons parkeer ons stoele onder
‘n doringboom en wag vir die son om bietjie te sak sodat ons kan tent opslaan
wanneer die koeler is. Heelwat
bontpoot-bosluise wat vanuit die bome op jou spring. Dit is wel 'n lekker kamp.
Eerste aand onder sterre met geen elektriese ligte. Pottie en Nida maak vir ons
‘sirloin’ gaar.
21 April 2003
Slaan kamp op en ry Maboasuabe toe en kamp die volgende twee nagte by
Khiding Pan. Baie mooi uitsig oor die
pan. Ons land taamlik vroeg na ‘n baie
warm dag in die pad. Slaan kamp op en
ontspan onder die A-raam afdak wat daar opgerig is. Geriewe bestaan uit die A-tipe afdak, 2 “long drop” toilette,
afskorting waar jy jou stort-sak aan kan hang asook opwasplek. Die pan bly die
oggend tot die aand vol Gemsbok, Springbok, Blou wildebees asook nou en dan
Rooi hartebees. Vir ontspanning kan jy onder die afdak gaan sit en na die diere
kyk. Aand braai Eddie en Claire vir ons
varktjops. Ons kuier tot laat met hier en daar ‘n jakkals wat sy opwagting maak
en smul aan die weense worsies wat Pieter as lokaas gebruik het.

vlnr: Nida, Eddie, Coenie, Nickey,
Sonet, Pieter
Foto geneem te Khidingpan.
Dag 2 staan ons laterig op. Pottie, Nida en Coenie ry ‘n draai na die
ander panne en kom op ‘n Kudu-ooi af.
Sien heelwat voëls. Die middag
gaan rus die mense terwyl Coenie en Pieter hul dors onder beheer kry met die
brandewyn en ys wat Pieter uit sy vrieskas gaan haal. Die aand maak Nida en Pottie vir ons ‘n skaapnek-pot uit die
boonste rakke. Mooiste sonsondergang
in ‘n lang tyd, en almal raak stil vir die oomblik. Pieter gooi weer lokaas uit
en die jakkalsies maak weer hul opwagting.
Coenie besluit daar en dan dat hy nie sal omgee om ‘n jakkals by die
huis te hê en aan te wend as hond nie.
Pottie is besig om vir hulle ‘n nuwe huis te bou op Hermanus en wil
kwansuis ‘n strandjut huis toe neem. Hy
het glo ‘n aantal van die diere gesien op hul onlangse Namibië-toer, maar erken
dat dit ‘n bliksem sal wees om mak te maak.
Ons was besig om op te skep toe ‘n bruin hiëna ook sy opwagting maak. Die hiëna hou ons die aand op ons tone.
Pottie deel ons mee dat diere se reuksintuie so ontwikkel is dat die dier slegs
3 molekules van ‘n voetweefsel benodig om ‘n spoor te vat.

Sonsondergang te Khiding pan
23 April 2003
Slaan kamp op en ry na hek. Ry
op ‘n aantal GPS koördinate, maar volg later die kaplyn wat reg noord trek tot
by Hukuntsi. Die pad is maar sleg en
hier en daar taamlik dik sand. By Hukunzi maak ons die voertuie se tenks vol,
probeer vir die vale om ys te kry (sonder sukses) en soek so ‘n tyd lank vir
die pad na Zutshwa. Nida maak ‘n draai
in die plaaslike PEP Stores tak en kom uit met ‘n paar nuwe sandale aan die
voete. Coenie en Nida se koördinate verskil, maar na beraadslaging is Nida se
koördinaat korrek en kom ons in Ngwatle aan.
Stop om lekkers uit te deel aan die kinders, en vertrek na Matsetleng
pan, so 70km se ry deur taamlik digte doringbosse. Die bakkies se verf kry pak slae van die doringtakke. Matsetleng pan se koördinaat is ook foutief
op Coenie en Nida se GPS’e. Stop na die
ou landingstrook by ‘n aantal bome wat lyk of dit ‘n kamp kan wees. Coenie en Nida kommandeer die res om vas te
staan en gaan soek rond. Kry die kamp,
pragtige plek vol springbok en die ander word geroep op die radio. Geen geriewe, maar dit was seker een van die
mooiste kampe na Khiding. Coenie en
Nicky maak ‘n pastapot vir die groep.
Van die rowwe pad het die pot omgeval en een van sy drie pote afgebreek.
Die poot word met Pratley Steel vasgeplak.
Met die hitte van die vuur kom die poot weer los en verloor in die sand
terwyl die mense opskep. Vir nagereg vergryp 'n paar van ons, onsself aan ‘n
bottel Amarula.
Almal help die volgende dag soek na die vermiste poot, maar ons is vort
met die tweebeenpot.

Kaplyn na Hukuntsi

Ngwatle met van die vriendelike
plaaslike bevolking.

Matsetleng pan.
24 April 2003
Baie vroeg uit die vere aangesien ons nie seker is oor waar ons gaan
kamp opslaan die aand nie. Volgens die
oorspronklike beplanning, wou ons iewers nà Ghanzi aftrek. Die “pad” tot op die kaplyn is taamlik
toegegroei en niemand koes meer vir takke nie.
Stop by die kaplyn om krapmerke te besigtig. Ry via Ukhwi (baie mooi
village) na NCojane (net so mooi) na Kule.
Iewers langs die pad stop ons om jaffels te maak met pastapot as vulsel.
Na Kule raak dit ‘n goeie grondpad waarop mens maklik 120km/h kan
handhaaf. Arriveer die middag 14:00 se
kant op Charles Hill. Gooi tenks vol,
pomp bande op en koop ys by die vulstasie. Vat die grootpad na Ghanzi,
lugversorgers aan, vensters toe. Ons
klomp is taamlik vuil en stowwerig met ons aankoms in Ghanzi so om en by 16:00
die middag. Coenie en Eddie gaan maak
gaskanne vol. Met terugkoms by die groep is daar besluit dat ons gaan kamp
opslaan agter die Khalahari Arms hotel.
Nida en Pottie kry egter vir hulle 'n rondawel. Ons gaan swem en stort en almal lyk en ruik
te heerlik. Coenie en Nickey moes kos
maak, maar kuier te lekker en op die ou end word daar wors gebraai met Jaffels
(weer eens oorskied pastapot as vulsel). Almal is dit eens dat die pastapot
goed was, maar almal is nou-al mooi uitge-eet aan jaffels en pastapot. Wanneer die mense gaan slaap, maak ek nog so
6 jaffels vir die pad – Pottie het in die verbystap gesê hy sal graag 2 wil hê,
indien moontlik.

Kaplyn na Uhkwe

Roete vanuit Matsetleng pan
25 April 2003
Nadat kamp opgebreek is, begin ‘n laaste soektog vir ys. Ons kry meer as wat ons verwag het, by die
hotel. Yskaste en ‘coolerbokse’
oorlopend vol ys, steaks en alle aankope afgehandel, val ons in die pad. By Etsha 6 draai ons af om petrol en diesel
te kry. Die inwoners is maar kortaf en
onbeskof (heel anders as waaraan ons gewoond geraak het in die suide), maar ons
kry darem ons tenks vol. Wanneer Nicky
en Claire verneem of daar iewers toilette is wat ons kan gebruik, is die
antwoord kort en kragtig “We don’t have it”.
Ry verder en draai af na Tsodilo Hills.
Op Ghanzi, is aan ons vertel dat die pad na die berge baie sleg is. Ons maak ons reg vir vassit ens. Die pad makeer niks, en ons is vroegmiddag
by die berge. Daar is ‘n nuwe museum
asook toilette met storte. Ongelukkig
is die plek besig om agteruit te gaan en die duur sonverhitte
warmwatersilinders staan soos ornamente, aangesien al die pype deur beeste
afgetrap is. By die museum bied een van die werkers aan om vir ons vir ‘n
begeleide stap te neem om die vrou-berg. Ons spreek af dat hy ons 07:30 die
volgende oggend sal kom kry. Ons kry toestemming om langs die storte en
toilette te kamp. Tot ons spyt word die plek gebruik as drinkplek deur ‘n trop
Brahamaan beeste. Wanneer Sonet die
Nissan se agterdeur oopmaak, val ‘n pak beskuit uit op die grond. Dit lok die beeste en Pieter het sy hande
vol om die beeste weg te hou van die Nissan.
Dit wil voorkom of die beeste die kleur groen verkies, aangesien hulle
bly draai rondom Pieter se bakkie. Sal
dit nie aanbeveel om by die storte te kamp nie, dit ruik na beesmis en die sand
is swart en maak alles pikswart. ‘n
Goedgemanierde hond (ons doop hom dadelik Waggie) maak sy opwagting en kuier
saam met ons tot die volgende oggend toe ons oppak. Coenie en Pottie oorweeg om
die Jakkals en Strandjut idees as troeteldiere te los en eerder vir Waggie
verder te neem, maar die vrouens weier dat die hond in enige van die twee se
bakkies gelaai mag word. Coenie en Eddie braai die aand tjops, Pieter en Pottie
maak vir ons krummelpap (teen hulle sin, maar op aanvraag van die res van die
toerlede). Waggie vreet homself disnis en slaap die aand langs ons vuur. As
nagereg haal Pieter ‘n bottel Amarula uit wat Coenie, Nicky, Eddie en Pieter
leegmaak. Pieter gaan haal later nog so
klein botteltjie uit wat ons ook leegmaak.

Claire, Nickey, Waggie en Sonet te
Sodilo Hills

Eddie, Coenie by Tsodilo Hills
26 April 2003
Pottie, Nida, Nickey, Eddie en Claire gaan stap om die boesman-tekeninge
te gaan besigtig. Coenie besluit om
bietjie laag te lê na die vorige aand se Amarula. Sonet en Pieter dui aan hulle is nie eintlik stappers nie. Pottie dui aan hy sal so halfuur saam stap
en dan omdraai (die roete is volgens die gids so 2 ½ uur). Die staptog is die moeite werd volgens die
stappers, tot Pottie het uitgehou tot die einde. Die agtergeblewenes het intussen hulself begin help aan die Tafel
lagers.

Boesman tekeninge van ‘n walvis te
Tsodilo hills
Ons ry verder Noord en stop by Drosky’s Cabin. Daar word gou-gou ontbyt gemaak (kon daar ontbyt gekry het, maar
dit was bietjie te laat…. die kombuis is alreeds toe).
Dit is ‘n pragtige kampplek op die Kavango. Ons huur ‘n boot en vaar vir ‘n uur rond. Ons kan almal die boot aanbeveel - heelwat
voëls op die rivier. Ons drink ‘n paer
drankies by die baie mooi kroeg.

Droskies vanuit die boot
Gaan by Mohembo oor die grens na Namibië. Slaan kamp op by Ngepi.
Dit is ‘n oasis na die afgelope aantal kampe. Ons kamp twee nagte hier.
Volop warm water. Ons kamp teen die Kavango rivier. Die aand maak Coenie en Nicky ‘n Coc-e-Viv
pot (hoender met rooiwyn) op Coenie se tweebeen Valkrik pot.

Sonsopkoms te Ngepi
Volgende oggend is wasdag. Die
drade word gespan en wasgoed hang orals rond.
Nida en Pottie gaan verken die omgewing en ry Maun toe. Die res gaan vir ‘n Sondagmiddag-slapie
nadat jaffels met hoenderpot as vulsel genuttig is, (afgesluk met ‘n aantal
biere). Pottie en Nida kom terug oor
middag-ete, met pragtige fotos, en gaan later die middag terug Maun toe om te
kyk of hulle enige leeus kan gewaar.
Hulle kom terug met nog mooier fotos. Coenie en Pieter slaap nie lank
nie en gaan verken eerder die goed toegeruste ‘bar’. Die twee se ‘bar’-rekening kry ‘n goeie hupstoot. Die aand maak Claire en Eddie vir ons
maalvleis met aartappel.

Coenie te Ngepi

Pottie besig om van die winde binne
daardie tent ontslae te raak te Ngepi

Pieter besig met toebrodjies vir die
dag te Ngepi
28 April 2003
Pak kamp op by Ngepi. Almal gaan
stort vir oulaas, eet ontbyt by die kamp se restaurant. Draai af na Khaudom. Baie mense het ons gewaarsku dat die pad van
die Noorde na Khaudom nie kinderspeletjies is nie, en nie juis veel gebruik
word nie. Wel, wees gewaarsku. Coenie ry voor, en maak die pap bietjie te
dik aan. Die res val terug en na ‘n paar kilometers moes Coenie halt roep toe
die ander nie meer in sig en radio kontak is nie. Pottie se dakrak het losgekom
en die ander stap terug om te gaan help.
Bande word verder afgeblaas en ons kruie voort. Na wat voel na 100 kilometer word bande
verder afgeblaas. Kom so 16:00 by
Khaudom se kamp aan. Slaan kamp op, en
twee olifante kom groet. Die olifante
hou die meeste van ons in die kamp die nag wakker met hul manewales.

Op pad na Khaudom vanit die Noorde

Nida te Khaudom

Nida, Pieter, Sonet, Nickey, Coenie
te Khaudom
29 April 2003
Ry verder Suid tot by Sikereti. Die park is baie ruig en nie veel diere
word gesien nie. Stop middag vir
‘brunch’ en ‘n olifant hou almal op hul tone terwyl so staan-staan ge-eet word. Die kamp te Sikereti is verlate toe ons daar
aankom. Die meeste is maar dik en sat
vir tent opslaan. Pottie en Nida gaan
verken Leeupan so 20 kilometer terug op die roete en neem mooi foto van drie Olifante. Braai die aand ‘steaks’ wat gekoop is by
Ghanzi. Maak tenks vol vanuit die Jerry
kanne.

Aankoms te Sekireti kamp

Nida en Pottie se drie Olifante
30 April 2003
Ry suid uit by Khaudom tot by Tsumkwe.
Kry aanvullings by die plaaslike kafee, ry na Tsumkwe lodge om rigting
aanwysers te kry. Pottie moes hier
beide sy agterbande vervang toe die bande se loop afklim. Net die vorige aand vertel hy die res dat
dit die laaste keer sou wees wat hy op Safari gaan met twee spaarwiele. Vervang
die bande en na ‘n klein soektog vind ons die groot boom en Holboom (± 20 km
vanaf Tsumkwe). Die plan was om nou
deur Boesmanland te toer en dan oor so twee nagte in Windhoek te wees. Die Kuhns en Louw’s besluit hul wil vroeër
terug, en ry alleen Grootfontein toe.
Die Potgieters en Le Roux’s is op hul eie met slegs Pieter se twee
15duim spaarwiele die boendoes in.

Pottie voor die holboom te
boesmanland
Die Louws en Kuhns oornag te Courtyard gastehuis in Grootfontein. Ons gaan eet die aand by die Meteor
Hotel. Slaap die aand in sagte bed met
lugversorger wat heelnag aangelos word.
1 Mei 2003
Louw’s en Kuhn’s ry rustig en stop-stop tot op Keetmanshoop. Die Louw’s ry tot by Lafenis Lodge te
Keetmanshoop. Al die kamers is vol en
druipstert word daar vir die laaste keer kamp opgeslaan.
2 Mei 2003
Vetrek 07:00 vanuit Keetmanshoop en land 17:00 in die Paarl.
Paar nuwe begrippe wat ons bygeleer
het gedurende die twee weke
Bier (warm, koud, maak nie so erg saak nie) : Pieter en Sonet
Tafel sonder pote : Eddie se Tafel lagers
Krummelpap is nie regte pap nie : Pottie indien hy gevra word om dit in
die plek van slap pap te maak.
Strandjut : Pottie se volgende troeteldier te Hermanus.
Voetweefsel : Om Strandjut mee te lok
Rooi bontpote en Pottie: Coenie,
jy moet darem versigtig wees vir die rooi bontpoot!”
Skaffeleer : Gemsbokke doen dit, maar volgens Pottie klink dit amper so
wanneer Coenie kiste rondskuif agter in die bakkie.
Hewel : water wat vanself loop agv swaartekrag
Nommer 1 : roepsein vir Pottie en Nida
My koningin : Pottie se naam vir Nida wanneer sy in die goeie boekie is
Yskas wat aangewend word vir ‘n kas : Eddie se yskas nadat dit die gees
gegee het
Vroeg opstaan : Pieter en Sonet
Winderig : Pottie
Snork : Pottie
Ys : Skaars item
Warm stort elke aand : Claire