2005 Winter toer (Christo Steyn – csteyn at absamail.co.za)
Vooraf
'n Trip begin mos lank voor die wiele beginne rol.
Daar was met baie manne gepraat, gesuip en ge-scheme hoe en waar ons moet draai - toe nog by die eertydse boom - GROOT dankie aan almal se idees.
Liefie het egter haar eie agenda gehad en het vir Christo 'n werkslysie opgetrek. Dit gebeur elke keer voor ons êrens wil heen ry, dan kom die skynbare verbeteringe waaroor sy 'n klompie maande gedroom het in 'n lys te voorskyn.
Hier is van die tasbare veranderinge wat aan ons eertydse Ventertjie (hulle sal hom self nie meer herken nie) moes gedoen word vir hierdie weg(breek):
Die wa moes sy eie hartklop kry – ‘n battery wat van die Land Rover
se laai stelsel af werk.
Die klerekassies moes in plek van die oorbodige jerrykan houers
ingebou word om van binne die tent te kan oopmaak - geen tasse meer nie.
Die gas moes permanent gekoppel word... en 'n stofie wat self kan aansteek moes ingesit word.. te lui om die laaiter te gebruik
'n Heel nuwe ontwerp vir die kombuiskas - kompleet met die mikrogolf
- alles van oom Peter Levey se alu-mechano set, moes gebou word.
Die onpraktiese Venter neuskas moes plek maak vir 'n 3 laaie kas
sodat Liefie haar goete maklik in die hande kan kry.
Die groot rak wat agter uitskuif moes toe ook van die mooi alu bedekking
op kry.
Die water kan se tap moes kon skuif - soos wat ons wil ry moet hy op (en agter
die voorskoot weggesteek vir minder stof, en weer af as ons wil water tap.
... en net toe word die Venter liggies afgehaal en kry hy propperse Land Rover ligte, 'n badge en ook 'n Land Rover agter bumper... o ja, en 'n moerse rooi T om te wys dis nie regtig 'n Landy nie.
Waar begin ‘n mens?
Ons beplan die toer al seker meer as ‘n jaar. Van lekker droom tot ons saamkom-naweke gereel het waar die spyskaart, paklyste en toer details fyn uitgewerk is het blitsvinnig verbygegaan. Die vereiste vir die toer was maklik:
‘n sirkelroete met genoeg wegbreek paaie vir as ons moelik by die
plan kan hou
Beslis Boesmanland en Kaudom moet insluit en dan met die Caprivi
deur
en dit sou ook nogal nice wees om Vic Falls om Wankie toe te gaan
oppad huis toe
Alhoewel ons al baie dinge saam deurgemaak het en ook afsonderlik saam met ander vriende getoer het, was hierdie ons heel eerste toer saam – soos ons altyd daaroor gedroom het.
Die tyd is aangekondig: ons vertrek Saterdag 25 Junie 2005 so by 03h00 om die Lobatse grenspos oop te vang. Die laaste weke vat ons nie grond nie, dinge by die werk moet klaar, saans word nog sleepwa gebou – selfs Liefie help om pop-rivits in te sit.
Donderdag 23/06 more vroeg bel Johan, daar is by sy praktyk ingebreek en al die rekenaars is gesteel! GROOT skade… ons ander begin dink ons moet nou maar liewer die toer uitstel, Johan sal mos nie behoorlik kan kuier as hy bekommer oor dit nie! Donderdag aand bel Johan, hy is vasbeslote dat ons moet ry, die versekering se goed is gereel en daar is in elkgeval niks wat hy verder kan doen nie.
Die Landy kry nog sy laaste olie en filter diens teen 22h30 Vrydag aand, Liefie help nog spênners pak – wil weet wat moet saam, Christo is te besig en sê sy moet die hele spul in die seilsak smyt! 23h55 maak ons oë toe net om weer teen 01h40 die opgewondenheid die oorhand te gee – ons staan op en begin klaar maak, koffiefles, padkos en die kussings.
En daar trek ons – Die eerste dag
By die Tarlton wegdraai pad by Krugersdorp kry ons mekaar by die vulstasie. Net gou ‘n draai loop en dan is ons oppad. Binne ruik ons die lekkerste gebak. Daar is vars Russian rolls wat nou net uit die oond kom – elkeen kry een vir die pad.
Net na Magalliesburg breek Johan oor die radio: Die karavaan se papiere is nog veilig in die kluis… by die huis. Daneel is dadelik by met: “laat dit fax na die naaste polisie kantoor”. Klein Johan het by die huis gebly en word in die vroeg oggend wakker gebel. Ons het by Boons polisie stasie gehoor hulle fax is toegesluit, Koster is uit papier maar Swartruggens is reg. By Swartruggens is die polisiemanne reeds met die fax in hand – ge-tjap en al – nou kan ons voort. Gou ‘n koffie vat vir die suksess, dit begin lig word
Geeltrui wenner: Daneel en klein Johan vir die fax deel
Bonthoed prys: Johan vir papiere vergeet en Christo vir sommer 3 keer verkeerd ry…. Die dêm GPS wil nie met die Laptop praat nie – kry nie die poort nie, dit kom nou van meer haas….
By die grenspos is daar nog baie laatkommers en dit is ‘n warboel van papiere invul rondvra waar en wat en hoeveel. Die sleepwa se lisensieskyfie is afgebreek maar binne die Landy – nou wil SA polisieman ‘n lesing gee oor wat die Johane kan wees. Christo groet onbeskof en is fort Botswana kant toe. Almal volg, hier is dit weer dieselfde warboel gesigte – nou het hulle nie skyfies vir 3de party nie en dit word so aangeteken op die “road tax” kwitansie – ons betaal nie vir 3de party nie.
Ons ry eers by Lobatse in opsoek na “skoon” diesel. Daneel se pa het sy 6 jerrykanne en tenk volgemaak as “going away” persent – ‘n hel goeie pa! Christo en Johan maak vol en so ‘n ent uit Lobatse kry ons stopplek vir die eerste brêkvis. Bettie haal uit en ons maak nie eers ‘n duik in die klomp kos nie. Daneel gooi solank ‘n kan of 2 Pa-diesel in die Colt.
Net voor Kang sien ons ‘n vars bees teen die pad dood lê. Hier is Exell Diesel en ons maak almal weer vol. Daar word by die pompe vertel van die man met die Toyota wat ‘n bees getrap het – ons sien die bakkie agter geparkeer en voel jammer vir die mense wat so moes omdraai. Ons beloof om versigtig te wees.
Ons vorder so ‘n entjie tot middagete, weer Bettie se brekfis en Ronél se koskas. Nou kom dit uit: Bettie het so in die besige pakkery gevra Ilse moet die eiers kook vir die Brekvis. Ilse het op die pak van 18 eiers afgekom waarvan net 9 moes kook – die res was vir klein Johan wat by die huis bly – nodeloos om te vertel, al die eiers was gekook en gepak… kon nie onthou of ons nog tot by Gam vir die armes sou uitdeel hiervan nie….
Nou moet die manne bietjie slaap en soos Daneel dit aan kondig: ‘n “all-woman pilot team” vat die stokke vir die volgende ent. Christo raak eenkeer wakker van die son wat my deur die venster skroei en Liefie wat die EGT se maksimum temperatuur rekord probeer verbysteek. Hy hang ‘n kombersie teen die venster en probeer weer verder slaap. “Boet….” kraak dit oor die radio… “…slaap jy?..” Ons trek af, loop ‘n draai en die manne ry weer voort. By die Ghanzi A2 en Namibie A2-split ry ons weer verkeerd, ons draai by die algemene omdraai punt om en kies die regte koers. Dit word donker en die beeste kom nou pad toe vir hitte. Christo hoor ‘n geraas en stop om te sien die een vasmaak-boud van die Hi-Lift het verloor. Daneel draai ook gou om sodat hy ‘n verblinde uil uit die pad kan jaag. Nou ry ons met ligte aan, Christo voor op bright, Daneel reg agter hom ook op bright en Johan ook agter op bright. Met al die goed agter in die Landy pla ligte van agter nie, maar dit verlig die pad skitterend. – Reel 1 van Afrika is oortree – geen rit na sononder nie.
Ons gooi diesel by Charles Hills en ons vra al die joggies of daar by die grens probleme is met Jerry kanne wat vol diesel is. Hulle weet nie eers waarvan ons praat nie en ons maak alles vol. Hier maak nog ‘n man met sy Ford gou ‘n draai en vra uit na slaapplek anderkant die grens. Eers toe hy wegry sien ons sy moerse Overland sticker agterop… nooit eers sy naam gevat nie, Cheers Mater! Die grenspos is stil en baie vriendelik ons paspoorte is ge-tjap en ons ry deur. Aan die Nam kant gaan dit ook net so glad. Ons ry deur na Zeldas waar André op ons wag en sommer ons kampplek aanwys. Die girls haal ‘n helse lasagne gereg uit die yskas te voorskyn, verhit dit in die mikrogolf en sit dit toe met ‘n wyntjie voor… Johan sê..”… Afrika!” en Daneel en oom Johnny die Loper voel-voel mekaar.
Dis toe dat Christo weet waar kom al die opgewondenheid en wakkerbly van die dag vandaan. Johan en Daneel is op ‘n stywe dosis Bio-plus - 2 bottels en so in die ry ook sommer bruis tablette. (hy het te laat uitgevind Johan en Daneel is ge-charge!) Moet sê dit het niks verhoed dat hulle goeie slaap ingekry het nie.
O Boesmanland – Die 2de dag
Ons staan lui-lekker op, maak vars koffie en eet beskuit. Ons het gereel om brêkvis by Zeldas te vat – een van ons skitter besluite! Die mense kyk mooi na ons en ons eet lekker.
Ons wys vir André ons reisplan en hy stel voor ons praat met die eienares – Sy gee my ‘n sleutel van die plaas se agterste hek sodat ons kortpad kan ry – hier spaar ons 40Km! Ons moet net die sleutel aflaai by Deon se huis naby die agterste hek. Soveel vertroue in vreemdelinge en op die hande dra is vir ons ongewoon.
Ons is eers 11h30 daar weg nadat ons groep-fotos geneem het en die Luiperd bekyk het. Sy (die Luiperd-wyfie) loop krul op die grond toe sy vir Johan sien…. die res is privaat geselskap…
Ons sit af tot net voor Tallismanis waar ons weer aan gister se brékvis en middag-padkos eet. Ons bevestig pad op die Laptop – die GPS skermpie wys maar eenmaal anders as wat die kleur skerm van die Laptop aandui – Dêm USB poort! Ons draai in Tallismanis op die dorsland roete Epikuro rivier toe, nou raak mens en bees al hoe minder. Later stop ons om elk ‘n Jerrykan diesel in die tenk te gooi – dit kry die gewig van die dakke af. Ons blaas wiele af, almal help vlytig, party meer as ander… Johan moet weer wiele pomp want Bettie het ewe pligsgetrou van die wiele wat reeds afgeblaas is, nog verder afgehelp. Ons het al amper iemand vir die bonthoed vir die dag…
Ons plan was om tot by Appelblaar te ry maar is so rustig dat ons halfpad soontoe al moet kamp soek. Ons geniet Afrika!
Die son sak toe ons die karre reg trek, Johan skink die openings nattigheid, ‘n kleintjie uit KWV en Daneel wonder wat van oom Johhny geword het terwyl ons kamp opslaan. Daneel versorg die vuur. Ons kuier lekker en soos dit kouer word verander die kleredrag in gebreide kondome…. Musse, serpe en warmbaadjies. Dis lekker om aleen so onder Afrika se sterre dak te kuier. Christo sit water in die vuur en Ronél maak die warmwater sakke lekker vol – dit gaan dadelik kooi toe. Heerlik!
Boesmanland die 3de dag
Ons word rustig wakker. Dis koud, die kondoom-koppies kom stadig uit die gate en soek koffie. Romanties vat Christo en Ronél die Vlakvark-spiëel en gaan soek ‘n opelug kolletjie, terwyl ons loop sien ons spore van ‘n groot kat naby ons kamp plek wat vir ons kom kuier het. Maar ongelukkig het die kat nie genoeg moed gehad om ons van naby te bekyk nie – ons kyk die Afrika oggend son se skilderwerk en gaan maak water warm vir ‘n lekker stort.
Eers teen 10h00 kom ons weer aan die gang, dis rustig en almal voel geen gejaag – dis hoe dit moet wees – Afrika tyd. Daar word gestop, blomme afgeneem, ge-keida en keida. Ons neem Boesmanland in. Eindelik kom ons by Appelblaar aan – 4 groot Appelblaar bome wat teen die rivierkant staan. Ons hou middagete – weer rojaal, kouevleis, mostertsous… daar was nog eiers… en ‘n wyntjie. Nou is Christo by met die bio-plus en gooi sommer vir Hom en Johan elk ‘n kan diesel in. Daneel se Colt is kombuistafel en hy moet eers skoonmaak. Ons besluit om die dag-1 padkos-hoenderboutjies uit te gooi, ‘n hiena se maag sal meer bestand wees daarteen as ons sin.
Later ry ons deur Steenbokpan en kry ‘n man wat sy beeste in die winterveld oppas. Ons vra hom of hy iets nodig het en hy sê hy soek net ‘n waterkar. Hy sukkel om die bees water te gee maar aanvaar dat hy tog regkom met die een 25liter kan wat hy op die muil se rug aanry van die boorgat af. Hy wens ons ‘n goeie rys verder toe.
Ons ry voort en begin weer teen skuins-son kampplek soek. Die gras is hier baie hoog en ons soek ‘n rukkie lank na ‘n geskikte oop kol. Hout word ook versamel en met sononder is ons opgeslaan. Fotos word afgelaai en weer gekyk. Ons lag oor Pirt se stories en Hennie se belewenis van ‘n Crystal Springs naweek wat Christo voorlees. Ons is aleen in Afrika! Ons braai vleis – Bettie keer dat Christo nie te veel speserye opgooi nie, dit word mooi in sy hand afgemeet. Skynbaar interveer wyn met ‘n ou se soutgooi… sal nie weet nie, al die vleis wat ek gebraai het, het nog nooit te veel of te min sout gehad nie.
Cheers Boesmanland, Haalô Gam – die 4de dag
Ons moes volgens beplanning al gisteraand naby Gam gekamp het. Ons het besluit om rustig te bly en Boesmanland te geniet. Ons sal liewer die Poppa dag deurry na Katima, dis teerpad en ons sal dit met gemak kan doen.
Ja, Daneel het die gewoonte om te “Haalô” as jy hom roep. Gam is nie Gam soos in Sem, Gam en Jafet nie …. Dis Gum soos in bubblegum.
Na nog ‘n stunning brêkvis ry ons die laaste deel langs die rivier uit tot teen die grensdraad tussen Botswana en NAM. Agarop is die naambord teen die grensdraad. Hier draai ons reg Noord en ervaar die wonderlike kleurveranderinge van die grond. Gryswit tot donkerbruin vir die rivierlope – dit maak fynstof, dan weer geel sand tot rooi duin – geen stof. Op en af ry ons die lang lyndraad-pad. In die dik duin-sand gooi die karre heen en weer. Die spore is wyer uitgetrap deur wydloop karre. Hier vorder ons vinnig. Ons kom later by die Veegrens draad wat reg Wes draai. Ons dink nog of ons die langer pad (ongeveer 1 uur langer) na Gam moet ry toe die hekwag vrou nader kom. Op die mooiste Afrikaans verduidelik sy vir ons dat dit beter is om met die grensdraad pad aan te hou. Christo vra uit oor die pad anderkant Gam, maar haar wêreldjie het nie verwysing van so vêr nie, sy weet net daar is so plek soos Tsumkwe verder aan.
Ons gaan deur die hek nadat die boek ingevul is. Hier was ‘n week laas ‘n kar deur, gemiddeld so 6 in ‘n maand. Ek ry voor. Die pad is nie op Tracks4Africa nie… so aleen is ons. Ongeveer 20Km verder swaai daar ‘n padjie weg in die rigting van Gam. Christo is eers nie seker of ons daar moet indraai nie, hou die ander eers daar terug en gaan verken so ‘n entjie. Nee, Afrika vat die paadjie verderaan terug en hy moet omdraai. Met sleepwa se tru so ‘n paar keer kry hy ‘n raps op die boud van ‘n lyndraad en verloor ook sy voorskote – die sien ons eers later. Ons kies koers met die wegdraai paadjie en die ander volg. Ons ry deur ‘n groepie huisies waar die Herero vrou ons die pad wys. In haar beste rok en koptooisel wat jou aan ‘n Honda 50cc se handlebar laat dink, aanvaar sy die laaste padkos-eiers vir haar padwys-moeite.
En toe gebeur dit:
Soos ons ook al beplan, beraam en uit ou verslae en kennis probeer wys word het, kom 'n mens by 'n punt wat jy besluit: genoeg is nou genoeg! Jy weet watter spêrs om in te pak, moere en boute van alle groottes, ekstra olie, alles tot jy later amper 'n kompleet kar kan bou. Dan pak jy weer uit, die trek is te swaar. Jy besluit dat dit wat vars gediens is en eeue moet hou nie nog 'n spêr ook moet kry nie.
Wat breek op so 'n afgesonderde trip waar jy weet jou Skepper kom ook net soms verby?
Ja, die een ding wat jy nie saam met jou het nie!
So was dit ook met ons (Christo), die bearings is gedoen - nuut man! Dit nogal
op die ekstra swaardiens as, wat kan dan verkeerd gaan? Daar was nie nog tyd of
plek om wragtag nog 'n stel bearings ook saam te ry nie.
Christo staan op my kniee die spul en bekyk, en hy weet hy het hier 'n verkeerde
besluit gemaak - as toerleier het hy kak beplan, klaar!
Die geluk was aan ons kant - dit het net voor kamp-maak tyd gebeur, so 13Km voor
Gam. Christo en Daneel is met die hub en oorblyfsels van die bearing na
die winkeltjie op Gam - die een by die kameelperd. Die vroutjie daar het
dadelik haar man in Windhoek gebel vir raad - hy was hoeka Windhoek toe om
bearings vir sy eie sleepwa te kry en sou vroeg die volgende môre terug wees. Hy
laat weet ons moet solank die ou bearings op sy sleepwa afhaal en gaan probeer.
Die vroutjie sê die winkeltjie bly oop tot 9uur saans en as die bearing nie pas
nie moet ons net kom sê wat die nommer is van die een wat ek soek, haar man sal
dan eers een kry in Windhoek voor hy ry. Ons spreek af dat as onsénog nie by
19h00 terug is nie, hulle moet aanvaar ons is reg.
Die bearing pas toe soos 'n handskoen... 'n te klein een... die as deel is net so 'n millimeter te klein - die hub deel is perfek. Ons besluit om die as te vyl... moerse job maar dis redelik netjies gedoen, die bearing pas, maar daar is nêrens ghries nie - behalwe vaseline. Johan kom toe met die briljante breinwave en ons haal die karavaan se gries proppe af - dit was vol splinter nuwe ghries. Die ou-nuwe bearing is steeds in plek en het nog ‘n verdere 2700Km gehou!
So skandes, ja, elkeen het maar sy eie kissie vol van die goette, en sal daar ooit
weer 'n bearing breek?.. Sekerlik nie want daar sal voortaan genoeg van elke
tipe in die spêrs boks saamry.
Johan het intussen kamp opgeslaan, die vuur aangesteek. Daardie aand het ons lekker geslaap, geweet dat ons wonderbaarlik gesëend is…. hier in Afrika!
Gam (of is dit Gum) tot by Sikereti – die 5de dag
Na ‘n lekker slaap en weet dat al die bearings nou weer vas is, het ons kosgemaak. Ons was 09h30 oppad om die mense van Gam te gaan dankie sê. Ons het so saam met die man van Windhoek voor sy winkeltjie ingetrek. Christo het die man van die Winkeltjie by Gam vir sy nuwe stel bearings gaan betaal - hy wou eers niks weet van geld vat nie! En toe kan ons ook nog water aanvul. Hulle wou die 1000 liter tenk leegkry om beesvoer aan te ry.
Daneel het hier vir ons ‘n Kas (of twee sakke) Tafel bier gekoop teen R5.00 een. Hulle was soet! Die ondersteuning was nodig.
Die man van Gam winkel sê hy sal maklik vir mense diesel, petrol en “unleaded” aanhou as hulle ho so ‘n week vooruit laat weet. Kyk, Samaritaan is great! Maar as jy nog sy adres en telefoonnommer het, dan kan alles mos maar net beter vlot. Die dogter wat Law swot op Maties skryf die besonderhede:
Ons moet die vroutjie liewer bel vir die reelings, sy is Jennifer Agnew van die Savanna III winkel by 09264 67 245508/44 of op die sel 09264 81 276 8286.
Nou is dit ‘n gawe grondpad reg noord tot by die T-aansluiting na Tsumkwe. Ons vorder fluks maar stop by by die hek van die Nyae Nyae Conservancy. Nog ‘n ent aan is daar ‘n groot kremetart langs die pad wat uitgebrand is – nog fotos. Toe Tsumkwe toe op die ander grootpad. Ons gaan eers die brief van ‘n ou in Gam aan ene Adonis by die polisiekantoor aflewer. Ons vra water vir die ander karre. Ons word verwys na ‘n goor plek waar die publieke water tap is. Ons besluit om deur die dorp na ‘n ander plek te soek en kry toe by ‘n beleefde vrou se huis toestemming om van die buitekraan te tap. Lekker water! ‘n Paar mak moere van die local shibeen wil weet of ons toestemming het om so te tap. Johan verwys hulle na hulle voorouers vir meer inligting. Ons dra by en gee sommer vir die vrou ‘n kontant bedraggie vir haar water. Die omstanders laaik ons niks.
Nou is ons fort na Sikereti en wil net eers die “stads remoer” verlaat voor ons by ‘n boom aftrek vir middagete. Makriel vissies, mossels, kasies, sout koekies, smere en Tafel bier…. Johan en ek klim op die Landy se dakrak om oor die bos uit te kyk…. Hy sê: “…Afrika!” Daneel sê: “… Colt!”
Nou begin die pad sinkplaat, dan weer dik sand en sommer sinkplaat en diksand. Skuis-son kom ons by die kamp grond aan, betaal en gaan soek staanplek. Ons is aleen in die eerste kampplek, maar verder aan is daar tog tente en ‘n sleepwa opgeslaan. Ons kry die kamp reg en maak vuur… Johan maak ‘n wyntjie oop, Die 2de KWV 5 jaar se gees word verjaag, ‘n okasie wat almal geniet.
Iewers bars daar groot konsternasie los! Onaardig hard klink dit asof ‘n mak vark vreeslik gemartel word. Gelyks klink dit ewe kliphard asof ‘n Hiena hom wil doodlag vir die spul. Ons vlie van uit ons sitplekke om die oorsaak van die droggeluide op te spoor. Toe die 2 flitse van miljoen kerskrag die bos brand hou die geluide op. Dit het uit die rigting van die arbeiders se kwartiere gekom. Ons is seker hulle het so ‘n bangmaak typie wat hulle vir toeriste speel – so om die bosklanke aan te vul. Kinders van Afrika ken die verskil… en hierdie is beslis modder, so besluit ons.
Nog later die aand kom daar ligte aan, ons het al begin bekommer oor die verlate tente van ander mense langsaan. “n DEFENDER word deur ‘n Isnoozoe ingesleep… arme geesgenoot… deur ‘n Isnoozoe van alles! Ons wag dat hulle vuur brand en stap oor om te hoor watter spêrs hulle benodig. Nee wat, sê die Landy man, die V8 se petrol kabel het al van die Kaap af laat weet hy is oppad uit! Die lood stukkie by die pedaal het toe uiteindelik van die kabel losgekom, maar hy is al amper weer klaar vassoldeer. Die Isnoozu-man kan nie glo dat Landy hulp so ver kan strek nie… ons lag verlig saam.
Ons kuier nog lekker om die vuur, dink aan Mars wat nou moet groter word soos hy nader aan die aarde beweeg.
Ons weet Johan Zwiegelaar en Chris Prinsloo verwag ons vanaand by Kaudom kamp, hulle wonder seker wat van ons geword het.
Sikereti na Kaudom, die panne pad om – die 6de dag
Ons is weer lui uit die kooie, maak vars koffie en tee, kuier en eet beskuit. Christo en Daneel gaan stook die donkie vir lekker warm stort. Die girls kry die brêkvis reg. Ons kom weer eers teen 10h00 weg, geen haas, lekker!
Hier is sommer baie olifante gemeet aan al die bolle in die pad. Johan neem die kak paadjies af. Daar word “nuwe” bome geidentifiseer – Baster Mopanie. By die eerste suiping sien ons ‘n olifant wat die hase pad kies toe ons nader kom. By die 2de suiping hou ons sommer middagete. Hier is Bastergemsbok saam met ‘n olifant en eekhoringtjies. Ons ry voort en sien ‘n bree-kop arend kuiken – mooi!
By Leeupan suiping kom ons onverwags op ‘n groot trop olifante af wat verwilderd weghardloop. ‘n Baie ou bul bly staan terwyl ons in die uitkykpunt klim. Nog ‘n groot bul kom vir ons ‘n modderspat vertoning lewer terwyl die bastergemsbokke toekyk. Die trop olifante agter die uitkykpunt gooi nou rustig sand oor die nat lywe. Ons geniet van die laaste Gam Tafels.
Toe ons wegry begin die sand ongenadiglik dik raak op plekke, maar ons is mos nie bang! Halfuur later roep Johan oor die radio: “… julle moet kom help..”. Daneel wil dadelik omvlieg met die Colt, hy brand om skoonpa uit te sleep, Christo verbied hom egeter. Ons haak gou vir sleepwa af op ‘n harde plek en ry terug. Johan het gaan stop in die dik sand om eers van die pienk Bohemia blomme en blare te versamel – daar kom nie so ‘n spesie in die boek voor nie. Eers met die wegtrek het hy besef die middelman-duin het die karavaan vasgetrek en nou sit die spul. Ons haak gou die winch en siedaar is die trek weer op dreef. Daar word weer sononder fotos geneem tot ons die kamp van Kaudom binnery.
Die kantoor is al toe, maar toe ons ‘n staanplek kry is daar manne by wat hout aandra en die waterkraan installeer. Ons is op die wal van die droë rivier en kan baster gemsbokke gewaar. Daneel en Ilse kuier om die vuur terwyl ons ander die badkamers oprig. Hier geniet ons die soet sappe van KWV se jong brandewyne tussen die opslanery deur. Later maak ons ‘n vleisie gaar, met Bettie wat weer die sout afmeet… en geniet ‘n wyntjie. Johan sê:”… Afrika!”.
Iewers die nag word Christo en Liefie wakker van die diep grom van ‘n olifant naby ons. Christo probeer om Johan wakker te kry in die klankdig karavaan. Daneel en Ilse kyk by die daktent uit maar sien ook niks in die donkermaan nag. Die olifant trompetter naby en loop terug rivier toe. Johan soek met die sterk soeklig maar die olifant is reeds te ver. Ons hoor nog hoe die olifant sy maters vertel van die raserige mense bo-op die wal.
Kaudom sand, Katima toe – dag 7
Ons staan luilekker op, praat oor die olifant, kry koffie en beskuit en stort heerlik warm. Na lekker brêkvis gaan ons eers die betaal sake afhandel by die kantoor. Die hoofman daar wil die strokie van Sikereti sien. Hy wys na ‘n “pampier” wat Nam Parks gestuur het wat hom verbied om ons ook nog geld te vra solank ons nog in die park is. Ons verduidelik ons het net vir 1 nag betaal, maar hy hou vol dat die aantal dae nie tel nie – jy betaal enterance fees en dis al.
By die kantoor het Christo vir Johan beduie ons vat die pad reg noord uit. Die hoofman sê ons kan nie want dit is ‘n eenrigting. Ons moet eers ‘n ent Wes en dan kry ons die eenrigting Noord. Dit gaan nou moeilikheid afgee, Johan sal in die diksand moet draai en ons is vas oortuig hy sal bly sit. Daneel is uit sy vel dat die Colt nou as touleier gebruik mag word – al is dit nou net om die draai te maak. Opsluit word daar in die stof op die spaarwiel oortreksel op die karavaan groot “COLT” onder die Land Rover kenteken geskryf. Die dier en sy merk….
Ons ry rivier harde stof pad Wes tot waar die Noord pad begin. Hier is dit dik sand en moet jy nog die wal ook uit. Christo waarsku Johan, maar hy is uit sonder voorval. Die dik duinsand hou terug maar ons beur die 50Km tot by die Caprivi hoofpad sonder voorval deur. As Christo af en toe vir Johan oor die radio vra of hy nog kom, sê hy””… hou net die neus in die branders!”.
Ons pomp wiele op en ons tap 18 liter diesel uit die DEFENDER vir die Discovery. Dit sal hou tot by Bangani. Liefie vra dat Christo ook so ‘n vasknyp-wiel-oppomp-dingetjie voor aan die pomp se pyp sit soos Johan sin, sy kan nie lank op haar hurke sit nie….. Christo beloof plegtig… after-all, sy werk so vlytig…
By Bangani is die eertydse Engen pompe nie meer in gebruik nie, ons trek by die Shell in. Ons gaan maak so vinnig ‘n draai by die Popa kamp se hek, besluit om maar nie tyd daar te verwyl nie en ry verder om ‘n eensame boom te gaan soek vir middagete. Op die brug by Bangani is ‘n polisie stop. Hier mors die dienner met Johan se tyd en gaan wys hom plegtig wat die boete vir nie-veilgheidsgordel-dra is. Hy sê ‘n mens moet ‘n gordel dra as jy ‘n polisie stop nader en kan dit dan weer los as jy weg ry…”it is for your own safety..”. Ons besef opnuut hoe gevaarlik so ‘n polisie stop kan wees, sê dankie en gaan soek ‘n boom.
Die grootpad deur die Caprivi is mooi. Daar is waarsku tekens van olifante, die kry ons wel te sien. Dit raak donker toe ons naby Katima aankom. Ons stop by die eerste garage om gou op die Laptop ‘n paar waypoints vas te stel vir die afdraai na Island View lodge waar ons geboek is vir 2 dae – lekker op die wal van die Zambesi!
Ons ry aan en kry die plek maklik. Die kantoor is al toe, maar daar is genoeg helpers by die kroeg om gou ons staanplek aan te wys nadat Christo vele kere moet sê ons wil nie eers by die kroeg kom inval nie. Hier begin die neukery. Ons word in een staanplek gedruk weg van die rivier oewer. Daar is ook nie krag nie, hulle sal môre rëel – probleem 1 en 2, ons aanvaar dit. Ons was te lank in die bos om opgewerk te word en maak ‘n moerse vuur. Ons braai en geniet van KWV se beste – Daneel en oom Johnny die Loper ruil gedagtes uit. Later maak Johan ‘n wyntjie oop terwyl ons fotos aflaai. Een-een raak die kondoomkoppies weg…. Afrika is mooi.
Rusdag by Island View – dag 8
Net soos wat ons weggeraak het gisteraand, kom daar stadig lewe. Ons kry koffie en beskuit. Elkeen werskaf rustig aan sy eie goete. Daar is blouape wat in die kamp pla. Daneel vat die kettie, laai hom met Kameeldoring peule en skiet die ape. Hulle laaik dit niks en besluit om uit die destrik te geepad.
Ronél wil gaan stort maar daar is nie warmwater nie. Sy keer een van die omsienners voor, die reken haar dat hulle net saans warm water maak. Sy strip haar skroef opmerklik vir die soort van diens en kom boos terug. Daneel vat ons oorskiet hout en gaan maak vuur onder die oop gasbottel-donkie. Later kry hulle gestort. Toe Christo en Johan ook wil stort is die water gedaan…. Christo vra ‘n werker kalm of die Zambezi ook dan droog is, hy antwoord net:” ôkey”. Ons trek weer aan en gaan stort by die karavaan – ons het nie eers so gesukkel in die boskampe nie…..
Dis al amper elf uur toe Christo en Johan besluit om die bestuur te gaan vra wat dan van ons kragpunt geword het. Die ou dogtertjie wat vir haar pa moet instaan – hy het geloop toe hy sien ons kom aan – reken hulle moes gaan kabel koop in die dorp. Ons vra ook uit oor hoekom ons nou in die agterspeen-staanplek geprop is – dit nadat ons deposito betaal het vir die wal staanplekke. Sy vertel dat daar ‘n groot groep wat nie bespreek het nie, daar opgedaag het en hulle het eenvoudig besluit ons sal beter in die agter staanplek pas. Dis hoe Afrika werk, jy kom daar, jy laaik, jy bly, jy laaik nie, is ôk okey as jy bly … of ry.
Ons het baie tyd vir niksdoen. Ons bekyk die Discovery se haak. Ons kan plan maak dan skuif die bal van die haak met so 6 duim op, dit sal nogals baie help om die karavaan uit die duinsand se middelmannetjie te hou. Die toolboks kom uit en ons maak so, ons is tevrede met die pragwerk. Later kom daar ‘n ou deur die bos aan met ‘n kragtou, ons kan inplug. Ons sit die yskaste op krag en spaar die batterye.
Nou dat daar baie krag is besluit ons om die laptops uit te haal. Ons kry die USB-poort aan die werk vir die GPS en laai roetes op en tracks af – baie is verlore van ons trip deur Boesmanland! Christo besluit om sommer die nuwe T4A weergawe kaarte op sy GPS te laai, daar gaan die krag af….. nee wat, Island View sien ons nooit weer!
Almal vat ‘n middagslapie en ons maak vuur vir die aand. Johan maak teen sy sin ‘n potjie – nie baie lus vir die harde werk. Met minagting maak hy een van sy beste potte!
Katima na Livingstone – dag 9
Hierdie toer is nie vir die dou-voor-dag-jagers nie, hulle sal hartaanval kry as hulle moet sien hoe tydsaam ons opstaan en inpak. Ons eet eers voordat ons die kantoortjie besoek om die laaste offergeld op te dok. Die dogtertjie is weer aan diens, steeds dikbek vir ons. Sy sit ‘n rekening voor wat – soos oral in Afrika – eers verkeerd bereken is. Nadat sy dit na ons smaak reggestel het betaal ons die oorblywende skuld. Sonder ‘n afskeidstraan ry ons Katima toe om diesel te kry.
Die laaste NAM dollars word vir koeldrank verruil en ons ry tot by ‘n boom waar ons die 2 seuns by die huis op Daneel se foon kan bel. Alles gaan goed – te goed hulle verlang skaars! Ons ry grenspos toe. Aan Nam kant is dit vinnig klaar en ons ry na die nuwe brug, Zambie toe. Ons sien geen grenspos kantore nie, maar net voor ek oor die brug koers kry sien ek ander toeriste se voertuie om ‘n draai aan die linkerkant. Dis toe ook die grenspos. Ons betaal en kry al die tjappe maar net voor ons ry kom daar nog ‘n gesuite man wat reken ons kort nog geel papiertjies. Ons betaal met US doller – vorige verslae het vertel dat die geldeenheid die goedkoopste betaal manier is. Later werk ons uit dat dit byna ‘n derde meer as ons eie Rand uitwerk. Volgende keer betaal ons in Rand. Zambie grens is duur!
Die nuwe brug is mooi. Ons ry tot middagete roep. Ons bekyk die mopanies wat hier groter word as in ons laeveld – die waaraan ons gewoond is – Ons wens ons kan dit vir Pa kom wys, miskien dalk nog. Daneel neem die krappe op die Colt af – mooi herinderinge van die Boesmanland/Kaudom deel.
Hier is ‘n nuwe kordaat boom – die Manketti – hy het mooi lyftaal en wil ‘n stam soos ‘n Kanniedood hê met ‘n vol lyf soos ‘n standerd 2 teken-boom. Hulle staan vol in Livingstone se hoofstraat soos ons inkom.
Ons ry by die vooraf bespreekte Livingstone Safari Lodge in. Hulle naam en besonderhede is op hulle prag-webblad gekry. Hulle e-pos wisseling was “out-of-Africa” en ons was impress!.... tot ons die uitdraai vat. Maplotter is naais. Ons kom by die ontvangs/kroeg/eetplek/kantoor aan. Die eienaar is verlëe want hy het sopas ons staanplekke met die “De Lux ensuite” badkamers aan ander mense verhuur. Ons vra of ons solank by sy kroeg kan wag todat hy die mense na ‘n ander kampplek oorplaas. Ons is nie meer in die mood vir die agterspeen staanplekke nie – ons het bespreek, vir wat dit ook al tel in Afrika.
Ons drink Mozi bier op Tjisse, die eienaar, se rekening terwyl hy met ‘n bottel Gin die ander mense om verskoning gaan vra. Daar is groot gewerskaf om ons want daar word ‘n Ierse troue se onthaal by die lodge gehou – oor 20 minute en ons sit dood luiters in hulle pad. Later sê die kroegvlieg/sjef ons moet gerus bly, want ons is ‘n naais bunch! Met skuisson trek ons by die vervalle privaat badkamers in. Dis skoon binne, maar daar is net sif voor die venstergate – en jy kry jou eie sleutel vir ‘n deur wat te klein is vir die koesyn. Die slot werk wel want die slot se keerplaatjie is uit gebuig sodat die deurslot darem kan inhaak. Johan sê:”…Afrika!” Bettie haal die kar se sonskerms uit om voor hulle badkamer siwwe te sit. Ronél dink dis ‘n skitterplan en ons badkamer word ook dadelik opgradeer.
Daneel sleep groot stompe van daar naby aan en maak stormvuur. Ons kuier lekker, maar luister onwillekeurig na die naby sjebien party se musiek wat hard oorwaai. Ons dink toe nog dis die onthaal se musiek.
Livingstone Lodge, die valle en die bootrit – dag 10
Ons kruip uit die kooi en soek koffie. Ons gaan doen navraag by Tjisse oor Sunset cruises. Hy stel dadelik Bundu Safaris se trip voor wat ons sommer daar by sy plek kom oplaai. Dit sal ‘n onvergeetlike ondervinding wees, reken hy. Wel teen 50 US doller moet dit wees!
Tjisse se rekenaar het viervoet vasgesteek. Die rekenaar reken hy weet niks van opstart nie en verklap dat daar aan sy ingewande gepeuter is. Uiteindelik was dit maar net ‘n stiffy wat in die drive vergeet was.
Ons maak klaar en “doen” Vic Falle. Die natuur verskynsel is steeds asemrowend. Zambie het egter ‘n publieke vakansiedag en dis redelik besig by die plek.
Die boottrip se taxi sal ons om 13h30 by die “lodge” optel. Ons gaan gaan wag weer by die kroeg en geniet ‘n paar Mozis. Daar trek ‘n bees trok in en die girls spot dat dit ons “Luxury transport” is. Wragtag die kroegman sê ons kan maar gaan opklim. Terwyl die girls giggel vir die onvormele vervoer, is ons mans nog geskok moerrig.
In die dorp trek die trok by ‘n geboutjie in waar Christo moet afspring en die betaling moet afhandel. Daar word ook ‘n swart army trommel opgelaai met ‘n klomp life jackets. Nog ‘n stemgeregtigde klim agterop die trok. Hy stel homself voor as Moses die skipper van ons rivierboot. Moses vertel dat ons so 20 minute met die trok na die boot sal reis. Na stofvreet en stamp kom ons by die rivier uit, hier klim ons af en loop deur die bos na waar ‘n rubber opblaasboot teen die wal lê. Moses probeer om op sy beste Engels ons geskok-verbaasde passesiers ‘n lesing te gee en stel voor dat ons liewer kortbroeke en sandals moet dra, ons “valuebles” in die swart trommel moet plaas en liefs nie baaidjies moet saamvat nie. Ons is opmerklik moerig vir die blatante verneukspul. Moses wil hê ons moet ‘n vrywaringvorm teken maar skree dat ons vinnig in die boot moet spring. ‘n Trop olifante het ook kom suip, hier waar die boot teen die wal lê. Moses is eerste die boot in – bo-oor die oorgetrekte plank met wyn en beskuitjies wat met toue aan die bootkant vasgemaak is. Hy gryp die roeispane en trek die boot van die wal af terwyl ons kameras en klere aanboord gooi. Daneel was darem by om dit uit die water te probeer hou. Moses beveel dat ons drie-drie op die kante moet sit om die boot te balanseer…. Ons voel diep teleurgesteld.
Ons vreet hulle ou blou kaas totaal op! ons suip die wyn – ons sorge moet ons verlaat! Ons sien ‘n paar voëls, seekoeie en kameelperde op die wal. So dryf ons valle se kant toe. Halfpad op ‘n eilandjie moet ons uitklim om bene te rek, hier word op Moses se opdrag ‘n groepfoto geneem. Later kom ons die “regte” sundown-cruisers teë en koes weg dat ons nie perdalks herken sal word nie. Ons word 2 en ‘n half uur van die begin af, afgelaai om op ‘n Landcruiser na die Lodge teruggeneem te word. Die ding skud so op die gladste teerpad dat ons opnuut ‘n eed aflê om nooit ‘n Toymoto te besit nie!
Afgesien van die buitensporige prys wat ons betaal het vir die Sunset cruise, was dit tog ‘n groot ervaring om met ‘n rubber duck, met net roeier op die Zambezi te vaar vir 2 ure. Soos Bettie sê, wie kan sê hulle was met ‘n rubber duck op die Zambezi met net roeier? Van ons het dit wel meer geniet as ander.
Vanaand is die heerlikste mosselsop en tuisgebakte buns nie eers smaaklik nie. Afrika se manier om mense te verneuk was een te veel. Die girls probeer die somber atmosfeer opkikker maar die 2de aand van sjebien musiek wat alles oordonner dra nie by nie. Ons is bly dat ons more weer hiervandaan kan padgee boskamp toe.
Livingstone na Wankie toe – dag 11
Ons opstaan is ietwat aan die klaarmaak kant, die opgewondenheid om weer in die bos by Wankie te kom is tasbaar. Ons pak op eet en kry die betaling agter die rug. Ons moet eers help om die rekening reg op te tel. Die sakrekenaar wil hê dat ons net vir een nag aangeslaan word, ons maal dit met 2 en betaal. Johan gooi eer diesel vol by die Vuma garage en ek ry gou saam met die pompjoggie om te gaan geld ruil in die dorp. Ons vind dit skreeusnaaks dat Johan 154035 Kwatcha moet opdok vir 31.5 liter diesel, maar moenie worry nie jy hoef net 152000 te betaal. By die Zambie grenspos gaan dit goed todat hulle 2000 Kwatchas by Ronél kom soek omdat sy in die badkamer was.
Aan die Zim kant verloor Christo dit heeltemaal toe ‘n man hom reken dat hulle nou R340 per kar moet betaal vir versekering. Die man reken as jy jou oorspronklike versekeringpapiere het, jy nie hoef te betaal nie. Hy vergun ons om nie vir die sleepwa en karavaan ook te betaal nie – maar dit staan op die papier dat die sleepwa of karavaan gedek is.
Ons is moerig oppad Wankie toe. Daneel vra dat ons moet stop sodat hy met die beeldmakers kan besigheid doen. Ilse en Daneel ruil kougom, penne en boeke vir eers peperduur items – Pa moet die karavaan oopsluit om die trek in te laai.
Ons bewonder die natuurskoon waaraan Mugab nog nie sy kloue kon sit nie. By Hwange dorp draai ons in Wankie toe. Die grondpad is nie te sleg nie maar hier geniet ons weer die bos-aleenheid. Ons kom by die hoofkamp om te betaal. Ons wou by Abiot se Masumadam gaan staan. Daar is al klaar ‘n klomp mense en ons besluit om by Mandavudam te gaan opslaan. By Mandavu is daar net nog een gesin wat in 2 klein tentjies bly – heel eenkant. Richard, die nuwe kampman is bly om ons te sien en help met vuurmaak. Hy vertel Abiot se pa, die vorige opsigter by Mandavu is van Januarie af met pensioen.
Na kampopslaan gaan sit ons by die uitkyk. Ons sien hoe die troppe olifante kom drink. Van Richard se familie vang vis by die wal. Ons kry lekker as ons sien hoe hulle weg hardloop vir olifante wat nader gekom het. Dit raak stil oor Afrika en die laaste dag kleure verander vir oomblike in al die pienk, rooi en oranje skakerings voordat alles weer blou-swart verkleur. Ons braai vleis op Richard se vuur, geniet die wyn en raak weer een-een weg.
Iewers deur die nag word ons wakker van hiena getjank, iets wat klink soos kort brul geluide en soms olifant trompetter. Dis aan die oorkant van die wal.
Wankie na Botswana boskamp– dag 12
Toe Christo en Ronél nog donkerdag opstaan om by die uitkyk te gaan sit kan hulle die hienas opmerk wat oppad is na die olifant karkas. Die olifant is die vorige oggend geskiet. Dit was een wat seergekry het en nou moeilikheid maak. Johan en Bettie kom ook by en ons kan sien die hienas is bang om nader na die karkas te gaan. Met meer lig nou tel ons nege leeus wat in die nag die olifant karkas begin vreet het. Seker vyftig tree verder staan ‘n troppie koedoes die spul en dophou. Die buffels kom ook nou water toe. Ons maak ontbyt en begin oppak.
Toe ons ry word daar eers groot dankie gesê vir Richard wat spesiaal die plek so mooi en skoon hou. Hy is oorstelp toe ons hom ‘n pakkie suiker, koffie en meel aanbied as betaling. Ons beloof om weer by hom te kom staan – sommer vir ‘n week aaneen.
Ons ry by Robbins Camp verby Pandamatenga grenspos toe. Hier is dit soos altyd verlate, pragtig skoon en die mense vreeslik behulpsaam. Aan die Botswana kant wil 2 geleerde manne ons voertuie inspekteer vir vars diere produkte. Ons is verder fort sonder voorval.
By nog ‘n veegrenspos wil ons regs afdraai Kokonje eiland toe. Christo vra pad terwyl die ander voertuie nader kom. Die wag wil eers weer ons vrieskaste ondersoek. Christo vertel hom dat hy die groep se vleisdraer is. Hy inspekteer toe ons yskaste en vind geen vleis nie. Ons ry aan en die wag waai die ander karre deur sonder om hulle te deursoek. Ons ry nog 20Km en Daneel kry vir ons ‘n lekker staanplek vir die aand. Ons slaan op en maak vuur. Die wind kom later op en dit raak koud. Ons eet en gaan kruip in.
Botswana boskamp Kokonje om Swartbult toe– dag 13
Dis baie koud en winderig toe ons vroeg roer. Daar is nog ‘n lang dag voor. Ons wil die leegheid van Kokonje gaan kyk oppad terug RSA toe. Die grenspos by Parrs Halt maak 18h00 toe maar ons wil nie graag donker op Swartbult anderkant Ellisras aankom nie.
Die wind waai gelukkig dwars die stof uit die pad. Ons vorder goed op die mooi veegrenspad. Die panne word sigbaar en so ook die kremetarte. Ons teken boek by die grenshek en ry die oopte in. Ons stop voor die eiland en beleef die uitgestrekte platheid, maar dis bitterkoud en die wind waai onplesierig. Op die eiland neem ons fotos en sien weer die skaars Afrika-stêr Kastaing boom – die een wat wil lyk asof hy boetie van die kremetart kan wees. Ons het genoeg leegheid fotos geneem en ry aan.
Hier raak die wêreld anders. Daar is diep skerp dongas waardeur ons moet ry. Op een stadium raak die sleepwa aan die DEFENDER se agterdeur en die karavaan sleep op die grond, soveel dat die Disco se agterwiele nie meer grond raak nie, dan weer die karevaan wat op sy agterste pype teen die donga afgly – wiele in die lug. Ons besluit om liewer met die teerpad oor Francistown te ry, sowat ‘n 70Km draai. Ons vorder nou vinniger maar moet tog die grens toemaaktyd dophou.
Net voor Phalapye is daar ‘n spietkop met ‘n radar en Christo word afgetrek. Die spoedgrens in die nêrens deel is 60 – hy het kwansuis 82 gery en word ‘n boete van 140 Pula opgelê. Hy moet 3Km terug om by ‘n ou Shell garage geld om te ruil – Hulle beduiwel Christo met ‘n wisselkoers van R100 vir 60 pula. Nou het hy 135 Pula in totaal en besluit die spietkop moet dit vat of vlieg. Redelik gatvol beduie hy die spietkop van die verneukspul waarop die spietkop besluit om die boete tot 100 Pula af te bring. Na ‘n uur se mors en baie papiere is ons weer oppad.
Ons maak op Phalapye vol terwyl die girls al die oortollige 35 Pula in die Spar gaan spend. Ons jaag vir die grens en maak dit met 10 minute. Tjap-Tjap en ons is uit RSA kant toe. Hier lees hulle die karregestrasies af en is ons weer terug in ons eie Afrika land! Ons ry nou in die donker Ellisras toe. Ons moet nog vir William bel om die plaas se hek te laat oopsluit. Ons kry ‘n “pasop vir vlakvark”-bordjie en lag oor die mooi een toe Johan skielik oor die radio sê hy het sopas amper ‘n moerse een bokveld toe gery! Daneel sê daar is stories oor dioe nuus van bomme in Londen!
Ons kry William op die lug en hy rëel vir die hek. Ons ry rustig in Ellisras Wimpy toe en bestel specials. Op die plaas maak ons ‘n vuurtjie en Ilse en Daneel stook die donkie vir warmstort. Dis steeds koud en winderig toe ons Phalapye-roomys en vrugte eet voor ons gaan inkruip.
Swartbult huistoe – dag 14
Daneel moet nog more werk en hy en Ilse is sonop weg huis toe. Ons ander kom teen 10h00 daar weg en besluit om die ou grondpad anderkant Marken oor te ry vir avontuur. So ‘n entjie verder sien ons die pad is sleg en krink ons weer terug teer toe. Op Vaalwater skok die nuwe brandstof prys ons terug werklikheid toe. Ons koop roomys en ry terug huistoe.
Oppad is ons maar stil. Almal met sy eie gedagtes oor die skitter vakansie deur die Afrika bos – aleen sonder geraas, dit is hoe dit moet wees. Entjie verder sê Johan oor die radio:”…Boet, volgende keer moet ons weer………..”. Ja, ons beplan al weer die volgende keer.
Dankie aan al ons reisgenote, julle maak ‘n trip!
Daneel en Ilse: Vir julle jonk wees en met nuwe oë na dinge kyk, julle lag en spangees!
Johan en Bettie: Vir julle rustigheid, vir bome soek en voëlname uitwerk wanneer ons ‘n duin-vassit probeer uitkry. Johan wat my bedonderdgeit verstaan en my ondersteun.
Liefie: vir al die poprivets insit, spênners pak, saam op die grond sit en vyle aangee, yskaste pak en my verdra en omdat jy ‘n bosmens is.