Drakensberg 2005 11 26/27 – Christo en Ronel Steyn
Liefie besluit as Ma gaan kuier en Seun sy eie koers kies vir die naweek, moet ons die pad vat en gaan kyk hoe lyk dit as die Drakensberge al 400mm reën gehad het vir die seisoen.
Die naweek skop af met ‘n vriende kuier by Irene Country Lodge Vrydag aand, wat ‘n skitter aand saam uitdraai. Terwyl dit reën en ons tafel op die stoep nie werk nie, gaan die kuier heerlik voort binne. Ons kom na twaalf in die bed.
Saterdag môre is ek eers saam met Neppa om Olive se elektrieks te help regkry vir die Angola trip. Piet hou homself besig met voor-bearings en remskoene. Piet wys my die regte afdraaie na Bezuidenhoutspas, hulle was vroeër die jaar van Wes na Oos, die “af” roete. Hy reken dis makliker en wys dat ‘n X3 saam was.

Ek en Liefie kom so net na 14h00 uit Centurion weg en gesels heelpad opgewonde oor die vooruitsig van ‘n moddernat pas en hou by ons besluit om dit van onder, Oos na Wes te probeer. Piet bel om te hoor hoe ons vorder, hulle het al klaar gebraai. Ons neem die eerste foto by die Driekloofdam – die Oostelike punt van die Sterkfonteindam.

Die wolke lê laag oor die berge soos ons die Oliviershoekpas nader.

Ons besluit, om by Little Switzerland te oornag, is uit. Die Harley Davidson Club van Durban het die hele plek uitgeboek. Boet bel uit die wildtuin en vertel dat die bos daar juig na al die reën van die afgelope weke, en ons “connect” so ‘n bietjie oor Afrika se grootnis.
Die lewe is ‘n lied as ek en Liefie verder ry. Ons eindig op by Orion Mount-Aux-Sources Hotel. Aangenaam veras oor die prys, weer ‘n heerlike aandete met ‘n Merlot, reën en goeie geselskap – net ons twee. Die kamer loop uit op die groot grasperk met die berge in die agtergrond. Die res is “classified”.
Vroeg roer ons al. Die mis lê laag en dit reën van tyd tot tyd.


Die brekfis is weer uit die boonste rakke. Ons boek uit en sien dat ons nog minder betaal – soos in nog R100 per persoon, ons het geen idee hoekom nie, maar geniet dit al hoe meer.
Ons ry rustig na Bergville, die son kom plek-plek deur maar dit bly maar dik bewolk. By die Drakensberg-Inn geniet ons ‘n heerlik warm Cappicino op hulle voorstoep. Die tannie is baie vriendelik en vra uit wat ons daar doen. Ons beduie ons plan om Bezuidenhoutspas te doen, sy raak lieries en reken dat ons dan beslis nie van die Ooste van Pretoria kan wees nie – ons gebruik dan die Landy vir regte “off-road”… ons geniet die grappie…. Sy vertel van die 2-keer-‘n-dag toere by die kragstasie by die onderste dam, gee ons ‘n teken kaart van alles in en om die berge. Sy vertel van die ou storie, vroee sestigs, toe die groepie wittes van Geluksdorp, afgesny van die wêreld, so ondertrou het en nou al die snaakse kindertjies…. dis te veel inligting, besluit ons. Sy nooi ons uit na hulle huisie in Ballito…. Afrika gasvryheid uit die boonste rake.
Ons ry terug na die Ladysmith afdraai en kies koers. By die Geluksdorp afdraai is ons links, na ‘n ent word die pad ‘n mooi grondpad en by die Kwaggashoek Game Ranch bord draai ons links af.

Hier is ‘n groot tent opgeslaan en dit lyk asof al die mense van die geweste vir iets groot opruk – ons het verder aan geen siel raakgeloop, behalwe een beeswagter.
Die paadjie is nie te sleg nie en daar is nie tekens van baie modder nie. Na ‘n paar kilos loop die pad deur die Ranch se groot hek. Ons moet egter hier links langs die draad af.

Die baie reën se spoel lê dongas oor die pad vorentoe.

Nog verder kan ons sien dat net perderuiters nog die pad gebruik. Al langs en onder die groot hoogspannings drade deur kronkel die pad. Dit moes seker eens as dienspad vir die kraglyne dien, besluit ons.

Die natuur is mooi !

En ons het alleen groot sports, dan is een vorentoe met die kamera, dan wil die ander een ‘n paar hindernisse oor, te lekker.
Die Landie se nuwe skokbrekers kry goeie oefening, alles werk seepglad.


Ons klim nou heelwat en daar is genoeg hindernisse vir elkeen om te geniet. Liefie is van vooraf beindruk met laestrekking en by een rotsbank giggel sy as die bande vluit. Die BMW ryery kom sterk deur.




Halfpad is ons deur die natuurlike woud – hier is die pad toegegroei en prentjie-mooi.

Ons kry ook baie plante wat welig groei – kon ons tuin nie maar so gelyk het nie???

Te gou is ons bo, maar ons is dankbaar dat daar nog sulke plekkies is wat ons verniet mag beleef.
Die rof-pas is net aan die Natal kant, heel bo op die berg maak ons vir oulaas die laaste hek toe. Hier is die komersieële boerdery dadelik sigbaar. Tekens van ‘n groot laaikraal wat in die laaste dekade gebruik was, lê nog vars.

Ons ry nou weer gemaklik 50 tot 60Km/u op die grondpaaidjie aan. Ons herken die Harrismith en Van Reenen berge ….

– nie meer ver nie dan is ons weer saam met al die ander gejaag op die N3 terug huistoe.
Kortom was ons so 26 uur van die huis af weg, so baie beleef in so ‘n kort tydjie. Wanneer ons gou die fotos aflaai en deurblaai, besef ons hoe geseënd ons is om net so impulsief sonder vooraf reel ons land met al sy arms vol gee, te mag ervaar.