Terug uit Angola - Chris van der Merwe

A Forum to ask questions and share advice that pertain to self drive, self-sufficient overland safaris to Angola. Questions about border procedures, National Parks, Lodges and destinations welcome.
User avatar
Hennie
Site Admin
Posts: 1483
Joined: Sun May 28, 2006 6:11 pm
Location: Pretoria, Gauteng, South Africa
Contact:

Terug uit Angola - Chris van der Merwe

Postby Hennie » Wed Aug 08, 2007 8:05 am

Chris van der Merwe het op n ligte trant geskryf...

More oggend vat ons die pad.....Ruacana toe, maar eintlik Angola toe. Kobus is hier met Obelix, hier by Entabeni waar ons klaar is met die Limpopo Challenge. Ek is moeg maar die vrae bly maal in my kop. Is die Cruiser reg ? Is ons papierwerk reg ? Het ons genoeg voorraad ? Sal ek en Koos oor die weg kom ? Wat wag op ons in Angola ?

Ons spring 4 uur die oggend in die pad. Dalk moes ek maar spotlights opgesit het, dit sou soveel beter gewees het. My kop is effe seer, en ek is moeg maar opgewonde. Ons het 2 300km tot op Ruacana, en twee dae om daar te kom. As ons net Maun kan haal vandag sal ek vrede he, maar Shakawe sal beter wees. Ek bestuur nog tot 150 km in Botswana in. Ons gooi petrol en kry kos. Wonder of ek rerig vir Kobus kan vertrou met die stokke, party ouens se bestuurstyl maak my op my senuwees en ek is nie lus vir nog stres nie. Nee.....se moer ek sal self verder ry, sluk net 'n RedBull, Red Bull werk altyd.

Na 30 kilo's werk die Red Bull soos n slaappil, ek is voos en kan nie my oë oophou nie. Die eise van die Limpopo Challenge haal my in. Ek gee oor..... Kobus bestuur verder, ek sit eers sake en dophou, maar kom gou agter Kobus is my soort bestuurder.....versigtig, rustig en oplettend. Hy hanteer vir Obelix met ontsag en ek kry dadelik respek vir die man. Ek slaap nooit in n bewegende kar nie, NOOIT nie, maar ek slaap soos 'n baba tot op Maun.....Red Bull ten spyt .....vrot pad vol slaggate ten spyt.

Ons haal toe Shakawe.....wonder of Jan en Eileen Drotski my nog sal onthou, ons het ses jaar terug daar gekuier.... ons het saam met die twee 'n hond uit 'n bos gekuier. Ons arriveer doodmoeg half nege die aand by Drotsky's Cabins. Hulle herken my nie, maar is gasvry en ontvanklik. Gee ons dadelik n dop en gesels aaneen. Na n half-uur kom daar twee vol borde kos met groente uit die kombuis......op die huis....sonder dat ons gevra het.....ons is stomgeslaan. Ons kry n chalet teen kamptariewe.....ook sonder dat ons gevra het. "Julle kom ver en julle lyk moeg", is al wat Eileen te se^ gehad het toe ek en Koos verbasend staar oor al die goeie gasvryheid. Miskien herken hulle tog my gesig oor die ses jaar........miskien wou hulle net goed doen. Glo my hulle HET !

Vars en gelukkig ry ons verder die volgende oggend. Ons vorder fluks tot op Rundu waar ons vir Piet-hulle raakry. Christo se waterpomp het gegroet, ons gesels en drink n bier.

Image

Ek is vol spoed en wil dadelik aanstoot Ruacana toe, maar hoe los jy ouens met n oop bonnet ? Selfs al het hulle al die parte, en hulle weet wat hulle doen, dit voel net nie reg nie. Ons wag tot Rofty reg is en ry verder saam. Dit word naand donker en Ruacana le^ nog ver, maar ons druk deur. Daai spotlights sou nice gewees het... Dit voel of ons die Dakar rally klaargemaak het toe ons in Ruacana intrek. Die ontvangs is ook groot en hartlik. Ons is hier. Selfs Rautie bied my n bier aan....

Dag 1 Grensdag

Petrol gooi, papiere check....en voor ons rerig kon stres is ons deur die grens....binne-in Angola.

Image

Ek voel nog uitgeput, maar is vol hoop en afwagting. Die enigste onbekendes is Jan en Alma. Hulle vlugtig ontmoet op Piet se plaas....maar ek wonder of ons reg gaan kom met mekaar. Jan lyk rustig, maar ek dink hy's die soort wat groot gaan as hy die dag ontplof. Alma lyk of sy klaar ontplof het, so asof daar maar daagliks n reeks ontploffinkies plaasvind in haar gemoed. Ek sal haar maar vermy, sal my enigste behoud wees. Almal lyk gespanne, maar wat verwag mens, niemand weet wat wag nie. Ons maak kamp op n mooi stukkie aarde.

Image

Ek vind gemoedsrus in n paar swart tjorre. Al is die res van ons trip 'n boggerop, vannaand voel klaar suksesvol. Dis n mooi aand.... Ons kuier lekker, maar ek reen sopnat die nag.

Dag 2 Bewolk dag

Staan op asof ek die natslaap-ding al n honderdkeer gedoen het, maar is teleurgesteld toe ek agterkom die meeste het droog geslaap. Ek is klaar met grondtente.....finaal. Net Christo-hulle was slegter af as ek.....baie slegter. Ek het n poel of twee gehad in my tent, maar hulle was onder die laagwatermerk. Skielik kry ek myself minder jammer, arme Ronel sy's n vrou.

Ons ry ons later vas in klei. Jakes sit vas, ek is mal oor vassit.....veral as
dit nie ek is wat vassit nie.....dan is dit lekkerder om te help, jy voel nie
so skuldig nie , maar bly tog deel van die ervaring.

Image

Jakes hanteer dit goed. Hennie vat voor met Bamba....die Hennie....altyd daar tussen die tyre en die tjoep as die poef spat.

Image

Ons draai en ry n ompad, darem nie te ver ompad nie. Koos kry ook weer n kans agter die stokke. Hy ry sowaar nogsteeds soos 'n witmens.

Image

Ons maak kamp langs die pad. Jan en Alma trek langs ons in.... Maar my vrese blyk ongegrond te wees, sy's nie rerig 'n heks nie. Sy bied ons selfs n halwe ui aan om te gebruik. Ek kook vannaand, so ons het nie eintlik uie nodig nie, maar Kobus vat daai ui.

Piet bly gespanne, lyk of hy die hele groep se welstand op hom neem. Hy moet ontspan , dis nie sy skuld dit is sopnat nie.

Dag 3 Slaggat dag

Ons slaap sonder reen. Ek slaap goed en staan met n fluit oor my lippe op. Ek bly in n fluiterige bui al word die pad slegter. Die Cruiser hanteer die slaggate beter as die Landies en ek ry met ente vooruit. Ek is trots op my Cruiser, maar ook bang die groep dink ek's windgat met die ding.

Image

Rautie en Jan maak die sleg pad kort met vrae oor die VHF. Wonder hoekom mens nou sou wou onthou wie was Pink Floyd se baskitaarspeler.... Maar die kennis verbaas my nie te min en maak die pad interresant. Ek en Koos is al ou vriende, nog 'n ongegronde vrees word stadig-aan besweer. Ons val 'n lodge binne en lewe soos koning vir 'n nag.

Image

Rautie wil nie saam met Hennie n kamer deel nie, ek en Koos is te dom om nee te se^ en maak so ! Die twee broers se verhouding fassineer my. Daar is n duidelike vorm van respek en liefde vir mekaar, maar daar is 'n snaakse soort afstand tussen hulle. Seker maar boere-hardegatgeid of iets.

Dag 4 Leba Pas

Hoekom jaag mens vreemde honde in die middel van die nag in n vreemde land rond ? Ek weet ook nie, maar vra vir Danie. Blykbaar blaf Durban se honde sagter, maar ai , om jou toon af te skryf agter 'n palanka-brak aan.....weet darem nie. Almal wil dorp toe, Lubango toe.....almal moet dorp toe....vir voorraad en brandstof. Ek wil nie dorp toe nie, maar ons moet. By die Christus-beeld kry ek en Kobus darem so in die ry n paar paparazzi-foto's geneem van militere toerusting.

Image

Hennie, Sarel, Stef, Christo en ons kies koers Leba-pas toe terwyl die res nog in Lubango rond janter. 'n Goeie keuse want ons kry die pas te sien net voor die mis hom toesak. Ons sak af see toe en ou Obelix hol dat dit klap.

Image

Neppa en Ritsa gee vir ons die Gladiator se cd en ons val die kus binne met 'n gejuig.

Image

Dag 5 Pedra Beach

Salig. Ons ry nie vandag nie, nerens heen nie.

Image

Image

Moolman bly my verbaas. Hulle Pajero lyk of hulle op n naweek-trippie is, lig gepak, heel in teenstelling met Sarel se Landy wat lyk of iemand op trek is en nie n waentjie het nie.....en dan is daar nie eers n vrou betrokke by Sarel se set-up nie. Na ek en Kobus so bietjie orde in Obelix se binneste geskep het, kry ek niks nie. Toe alles deurmekaar was het ek geweet waar's wat, maar nou moet ek vir Kobus vra as ek iets soek.

Ek los die soekery na my flits en gryp n swart tjor. Ek weet teminste waar hulle is. Ons hou ons Gala-aand en Moolman verbaas my n tweede keer. Die ou het sowaar 'n binneste wat ook die vreugde en smarte van vriendskappe kan weergee. Die manne is dieper as wat mens dink. Anna het n mooi paar bene aan haar, Moolman is 'n gelukkige man.

Image

Image

Maggies ek verlang erg huistoe vannaand, Connie sou die trip en die mense baie geniet het. Maritsa foeter nie rond met n noot nie, as sy vir hom vat vat sy hom vas en sy sing sowaar n hele liedjie sonder enige begeleiding of hulp. Suiwer en nootvas.

Neppa spandeer nie onnodig baie tyd op n verhoog nie....een "dieng" en een "dong" en hy's klaar. Sy stoel het nie eers koud geword nie toe sit hy alweer. Hy was slim die bogger, daar was nie kans vir foute nie. Jan Sterk hou weer van n verhoog, dit voel naand vir my soos nagmaaldiens in Wes-Transvaal met ou dominee Swart, daar's nie einde nie. Seker maar ook oor ek nie regtig luister na Jan nie, ek sit en worry oor my beurt.

Image

Image

My item is derde-laaste. Kobus is nie baie beindruk nie, want hy is die skinker, en as ek n "headwind"(stres) het is my verbruik hoog. Hoër as die Cruiser s'n, maar toe my beurt aanbreek toe's die "headwind" 'n ou briesie....want toe het die brandewyn al 'n voorsprong bo die stres. Ek blaas my blase op die saxophone sonder baie foute en ek gaan sit. Ek hoor vir die eerste keer weer die see. Man, wat 'n lekker aand.

Dag 6 Pedra Beach

Christo lyk nie goed vanoggend nie, die man se gesig is rooi, maar die res van sy lyf is nie gebrand nie. Dalk n bietjie groot gegaan gisteraand, maar dit was n groot aand. Ek voel ook maar n bietjie oes, die stres-ding los soms 'n koppie. Drank help nie vir stres nie, dink ek by myself, maar water en melk ook nie. Ons ry kus-op. Sommer net vir lekker. Party bly agter en vang vis.

Image

Image

Ons verken Baba Beach, later maak ons brekfis. Christo lyk beter. Jaco Pauw vang vis dat dit klap, maar hy vang niks. Ek wonder in my stilligheid of hy onthou van aas aansit.

Image

Ina is meer produktief , sy sit op die strand en boeklees. Danie lyk of hy vir Jaco help, soort van in n raadgewende en ondersteunde hoedanigheid. As ek ooit n trippie moet doen waar "caterers" nodig is huur ek vir Ina en Elmarie. Magtag daai twee vrouens kan kosmaak. Nie mooi opgelet nie, maar ek is seker die Pauw'e het elke aand voorgereg, hoofgereg en poering deurgewerk. Danie se lyfie ondersteun my vermoede sterk, maar soos ek se^ ek het nie opgelet nie.

Dag 7 Namibe verby

Ons verlaat Pedra. Verby n skeepswrak Namibe toe. Ek stres weer want ek hou nie van dorptoe gaan nie. Kobus wil nie vir my .n bier aangee nie, ek besluit om die dorp sonder 'n bier aan te durf. Maar ek brom in my binneste, ek het bos toe gekom......nie dorp toe nie. Ons gooi petrol en koop groente. Klaar met die Namibe, ek wil uit maar weet nie waarna toe nie. Ons kry vir Hennie en Rautie en Neppa by die hawe en wag daar vir die groep. Ek jaag almal oor die radio aan en se^ hulle moet roer. Agterna is ek spyt daaroor, wie de moer is ek om ander mense aan te jaag, dis hulle trip ook, en as hulle van dorp hou, kan ek mos nie Generaal wil speel nie. Ek is vies oor my selfgesentreerdgeit en gee sommer vir Kobus weer n slag die stokke.

Image

Ek moan nie eers binnekant toe toe die groep besluit om Tombua ook nog te verken nie, ek kruisig myself en karring saam die dorp in. Daar maak ons toe 'n polisieman en doannebeampte se dag.

Image

Toe ons Tombua uitry, is daar nie keer aan my nie. Ek werk n hele vloot swart-tjorre deur en sing saam met die groep Ddisselblom uit volle bors oor die Hantamberg en nog wat. Net soos dit ander mense se trip die is is dit mos my trip ook, en ek vat 'n vars tjor uit Koos se hand uit en val saam met die girl van Ddisselblom in. Iewers kom n stem op die CD ernstig deur wat ek nie vroëer gehoor het nie, en soos ek sagter sing om mooi te hoor, so ontdek ek die vyfde lid van Ddisselblom.....KOBUS KRIEL. Nee wat toe brul ou Obelix se binneste soos ek en Koos en die girl sing.

Image

Ons sing onsself by "Lake Orca" verby en stop later by n hoop klippe waar almal ook eers n klip bysit. Glo vir "good luck" se^ iemand. Ek voel daar word goed genoeg na my omgesien, ek het nie nog "good luck" van n klip af ook nodig nie.....

Image

Image

Ons maak kamp, ek wil onder die ope hemel slaap maar n moerse spinnekop laat my vinnig tent opslaan.

Dag 8 River Crossing

Piet en Magda word vir my al stiller, wonder of daar iets broei. Miskien verbeel ek myself. Stefan is sowaar nog in een stuk. Hoe seer moet sy gat nie al wees vir daai bike nie. Lekker het mos ook 'n einde, veral as jy al twee-keer die afstand van die ander afgele^ het. Maar Tossel ry daai bike, dag in dag uit. Die bike word voor Tossel moeg, n klip het die bike laat besluit hy's eers lus vir roofrack-ry. Stefan lyk soos n predikant sonder 'n gemeente. Moedeloos.

Image

Ons stop by n Kliplodge. Ek en Jakes ry vooruit om na die rivier-kruising te gaan kyk. Ek besluit vooraf ons sal daardeur, sonder om eers die rivier te sien. Maar die rivier is diep. Ek is weereens selfsugtig. Dis nie net die Cruiser wat hier moet deur nie, goete laer as die Cruiser en boon-op sonder snorkels moet saam hier deur. Jakes roep die groep oor die radio. Ons wil he almal moet saam kom besluit. Nee se^ Hennie ons moet die "call" maak. Jakes vra wat dink ek. My kop raas, ek is mos mal oor vassit........maar logika is soos n goeie vrou, se^ vir jou dinge wat jy nie wil hoor nie, maar wat waar is. " Nee Jakes, ons sal nie elf voertuie hier deur kry nie", druk ek dit teen my sin uit. Ou banggat.....laat waai dit dadelik hier binne. Gelukkig begin Jakes weer met Hennie praat oor die radio en gelukkig sien Jakes dit ook so. Hennie vertrou ons oordeel. Ons draai om, maar loop ons weer vas teen dieselfde rivier stroom-op. Gelukkig is hy hier vlakker, alhoewel effe breer.

Christo probeer eerste maar kies die verkeerde lyn en sit vas. Hennie pluk vir hom terug en probeer self n ander lyn net langsaan. Waar ek twee ure vroeer gewonder het of Hennie nie maar n "choker" is onder druk nie, (ek meen hy wou volstrek nie eers dink aan die doodsakker nie) bewys die man my binne minute verkeerd. Hy druk Bamba se neus in die branders en hy ry, net op n denkbeeldige lyn af. Die V8 klink soos n buite-boord engin met sy uitlaat wat so borrels blaas, maar Hennie druk deur......sonder versekering of dit gaan werk en boon-op sonder voertuigversekering ook. . Hy druk nie net deur die rivier nie, maar sommer deur my pessimisme ook. "Choker" se gat man, die man skrik vir geen uitdaging nie. Ek en Jakes weet nou ons het die regte keuse gemaak, die eerste kruising was te diep. Ons kry al elf voertuie hier deur, die twee Pajero's beindruk ook, ek was bekommerd oor hulle electrics.

Image

Neppa se Landy breek 'n as. Weer is dit planmaak en die keer klop Christo se winch die gepluk van die Cruiser. Piet word triomfanklik op Moolman se skouers getel (deur die vriend Moolman homself) en dit voel voorwaar of ons 'n veldslag gewen het.

Image

Image

Ons maak kamp in 'n droe rivierlopie. Ek voel grieperig en Koos besluit sommer self hy maak weer kos vannaand. Dalk is hy net lus vir lekker eet. Ek bou nou nie juis sesgang maaltye as ek kook nie, maar vleis is mos 'n gebalanseerde ete, vra maar vir enige leeu. Maar ek begin vermoed Koos voel nie dieselfde as ek en die leeu nie...

Image

Dag 9 Kunene toe.

Olive se clutch is voos vanoggend. Maritsa s'n ook. Hennie en ander help. Ek en Koos gooi petrol terwyl aan Olive gewerk word. Daar word ook aan Maritsa gewerk. Die vroue staan sommer so kringetjie en dit beduie met die arms asof daar pad aangewys word. Kry vir Maritsa jammer, wonder of ek drie dae in Olive sal uithou sonder om mal, doof of mank te word.

Image

Koos se^ hy wil so bietjie vandag saam met Neppa ry......seker dik vir my geselskap. Die pad word vrotter, totdat ons n steil sandwal teekom. Ek ry voor en druk Obelix se neus teen die wal op. 80% uit besef ek my momentum is te min, maar dis te laat. Die Cruiser grou homself in. Ek laat los en stoot terug tot in die rivier. Tot my verbasing is die ander nog nie by nie, so niemand het my foutjie gesien nie. Ek kom met die tweede probeerslag maklik uit en stop die Cruiser onder n boom. Piet is volgende met Masai en ek hoop in die stilligheid hy misgis hom ook met die helling. Tot my teleurstelling ry Piet hom "one-time" uit. Seker sy verdomde lockers, ek het nie lockers op die Cruiser nie.

Jakes is volgende......ook hy stel my telleur. Eerste slag. Nou's ek eers bly niemand het my gesien nie, en Koos is automaties ingesweer in geheimhouding in , sommer so sonder dat praat nodig was.

Jan Sterk maak dit nie. Maar Jan luister vir geen raad nie. Vensters opgedraai is hy in sy eie wereld daar binne. Dat hy vir Alma ignoreer verstaan ek, enige ordentlike man ignoreer sy vrou so dan en wan, hoe anders oorleef ons dit vir jare. Maar dat hy ons almal ignoreer verstaan ek moeilik. Hy mompel net iets van almal praat gelyk.....hoe hoor hy dan in n hof ???

Terwyl Piet vir Masai omdraai om vir Jan te help, se^ Neppa nee, hy's klaar hy draai om. Ons maak meeting en ons sien dis onmoontlik om teen hierdie pas op hierdie paaie Kunene te haal. Party wil aangaan , ander wil terugdraai. Dis agtermiddag. Ek wil ook terugdraai, die Cruiser se seel op die agteras lek olie en net Landies het die reg om olie te lek, nie Cruisers nie. Ons kamp net daar en toe die omdraai-besef die groep tref toe word daar groot gegaan. Dis mossels en oesters en bloukaas en soutbeskuitjies die wereld vol. Sarel is 'n ander bron van verbasing. Die ou het spanners en spares en voorraad in sy Landy wat n rally-span in Dakar 'n week aan die gang sal hou. Christo dieselfde, ons trip staan einde se kant toe en hy het nog yskaste vol vleis.

Piet wys my hoe om n flatty-hoender met plastiek en al op die vuur te braai. Ek het nog nooit so baie gekook op n trip nie. Kobus bodder al weer met patats of iets saam met die hoender. Nog voor ek wonder of dit n goeie idee is, toe kook ou Koos sommer self die patats. Die man lees ook die tekens van my kant af nog voor ek hulle uitgestuur het.......patats hoort mos in die Kaap saam met snoek, nie hier nie, maar Koos eet patats in Angola. Hennie is vriendeliker as gewoonlik en ek dog maar dis sy aand vir vriendelik wees....totdat ek ontdek ou Ysbeer is uit brandewyn uit. Plaas vra die man net, ek en Koos se drankvoorraad staan nog sterk.

Ons gooi ons kroeg oop vir die Ysbeer....... Rautie lyk of hy verlang nanaand. Na wie sal hy verlang, wonder ek stillerig. By sy huis is dan net die twee honde, ons is tog nie so lank weg dat n ou al veronderstel is om na jou honde te verlang nie. Dalk verlang hy na stilte, ons is maar raserig saans om die vuur.....en die man is seker stilte gewoond. Na wie sou Sarel kon verlang as hy nou kon verlang....... Ek los die gewonderry oor ander manne se verlange en skimp by Koos vir 'n dop. Dis nie my skuld hy't patats gekook nie, hy is skinker vannaand, ek het hoender gebraai. Kobus wip hom nie eers vir my nie, vra nogal of ek ys ook wil by he^. Hy skel my seker in sy binneste, maar sy gesig verklap absoluut niks. Ek kon nie vir n beter reisgenoot gevra het nie, en ek wou hom nie eers met Obelix se stokke vertrou nie... Ons kruip in na 'n lekker aand.

Dag 10 Grens se kant toe.

Dit word n voldag se ry en ons hou mekaar besig oor die radio. Klippe word in voertuie gepak daar waar voete en pedale moet werk. Bamba se heater werk nie eers nie, ek het hulle op oorwarm gestel maar Hennie wil nie by kla oor die warmte uitkom nie. Rautie haat lee bier-blikke in die pad en tel dit op. Moes maar tog vir hom 'n koue vol bier ook geplant het.

Image

Image

Weer net aan droogmaak gedink. Ons kamp in 'n rivier-bedding. Ons laaste aand in Angola. Ek ontdek lekker biltong in Danie se Landy. Koedoe-biltong met n mes nogal so by hulle. Die ou het 'n goeie versameling cd's ook en ek sit in sy drywersstoel en lê weg aan daai koedoe. Ou Danie kom vroetel vir iets agter in die Landy sonder om my te sien en skrik hom boeglam toe ek skielik met hom begin praat vanuit sy eie voertuig. Ek wou maar net vir hom se^ hoe lekker daai biltong proe, maar ek bly wonder......Koedoebiltong van Durban af maak nie lekker sin nie...

Image

Daar word sertifikate en botteltjies uitgedeel. Ek neem foto's vanaf Christo se roofrack en sy tent word 'n lekker bêreplek vir leë swart tjorre. My tent kry voete maar dit vat nie n wiskunde-vraestel om die skuldiges te identifiseer nie. Piet lyk effe verlig die trip is verby. Ek dink meer verlig oor daar nie groot moelikheid was nie en oor die groep deksels goed gekliek het. Mens wil nie eers dink aan alles wat kan skeefloop nie, en ons was geseënd. Geen ongelukke nie, niks nie (behalwe Danie se toon.) Dis asof Piet en Magda se "kite" ook sommer weer lekker hoog vlieg. Ek, Magda en Maritsa sing weer saam met Ddisselblom asof dit ons laaste aand ooit is......tot groot ergernis van Sarel. Ek dink hy is gatvol vir geraas. Ons sing klaar en sit die musiek af. Magtag daai girl van Ddisselblom kan sing...

Dag 11 Ruacana toe.

Die pad Ruacana toe verloop stil, hier en daar n dingetjie oor die radio maar almal berei hulle so in die ry voor vir die grens en die terugry SA toe. Moolman ry die Angolese grenspos se " cone" in sy glorie in , maar verder geen pyne. Ons sak in n Lodge in en koop Tafel Lager kwarte (seker drie-kwarte) vir R8-00 elk. Ek deel die vlag met Moolman. Daai vlag wen jy nie sommer nie, dis harde werk, my tien dae gevat. Ek dink Piet moet die oorspronklike vlag hou, dit was immers sy trip gewees en hy was stilweg in beheer van alles gebly sonder om oordonderend te wees. Voorwaar n puik leier.

Ons Amigos trippie eindig te vinnig.

Maar ek bly dink...

Daar is beroemde sterre, bekende en belangrike mense, adelikes.........hulle word geklas as "spesiale mense."

Ek was Angola toe saam met gewone mense, maar ek het in Angola ontdek dat daar eintlik iets baie spesiaals is aan gewone mense.............hulle is vêr beter as sterre, bekendes en adelikes.

Aan almal van julle.....cheers en DANKIE. :-))))

Tjomma Chris.........alias ......Maartin Chris.....alias....Skinker
Chris......alias.....Bobaas kok Chris. :-)

Image

Meer fotos: http://reports.overland.co.za/Amigos_Angola_2006/

Return to “Angola”

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest