Terug uit Angola - Pieter Rossouw

A Forum to ask questions and share advice that pertain to self drive, self-sufficient overland safaris to Angola. Questions about border procedures, National Parks, Lodges and destinations welcome.
User avatar
Hennie
Site Admin
Posts: 1483
Joined: Sun May 28, 2006 6:11 pm
Location: Pretoria, Gauteng, South Africa
Contact:

Terug uit Angola - Pieter Rossouw

Postby Hennie » Sun Aug 05, 2007 7:11 pm

TOER NA ANGOLA

“ANGOLA IS NIE VIR SISSIES NIE”

Datums: 3 tot 24 Junie 2007.

Reisgenote: Derek en Meryl Russell van Kaapstad - E pos dkrussell@global.co.za
Pieter en Christine Rossouw van Bela Bela - E pos rossouw@vea.co.za


Voertuie: Toyota 3.0 KZTE, 2000 en 2004 model elk met +/- 160 liter brandstof, 70 liter drinkwater en 25 liter waswater kapasiteit. Bladvere versterk, goeie skokbrekers en nuwe bande. Kamptoerusting: daktente, kos en ander toerusting in laaie wat nie afgepak word nie, water in ingeboude tenk en waswater in geel sonneblomolie plastiese kan.

Voorbereiding: Inligting verkry vanaf vorige toerverslae op http://www.overland.co.za/, kaarte van http://www.tracks4africa.com/default.asp en koordinate en baie ander waardevolle inligting vanaf http://earth.google.com/ .
Portugese fraseboek en CD van Eyewitness Travel Guides.
Uitnodigingsbrief deur ‘n kontak vanaf Luanda. Dit is nogal ‘n belangrike dokument wat op die ou end arriveer met allerhande offisiële stempels ens. Ons was ook nie baie verbaas om te verneem dat niks verniet is nie en moes vir die nodige moeite betaal. Visums by die Angolese Ambassade in Pretoria teen R750.00 per persoon was op die ou end die maklikste om deur ‘n persoon te reël wat gereeld met die ambassade kontak het.

Toerprogram:

3 Junie (Sondag) - Vertrek vanaf Namutoni ruskamp. Gaan oor die grens by Oshikango. Gelukkig kry ons twee persone wat Engels en Portugees magtig is en vir ‘n fooi help hulle ons om deur die Angolese kant te kom. Een van die “anderste vereistes” was dat ons ‘n afskrif van die immigrasiestempel in ons paspoorte moes maak vir die doeanebeampte. Dit het beteken dat een persoon moes teruggaan na die Namibiese kant want daar was geen werkende kopieerder by die Angolese nie. Ons moes ook afskrifte van ons paspoorte en bestuurslisensies verskaf. Dit neem drie ure om almal tevrede te stel en ten spyte van die gebrek aan wederkerige taalvermoë word ons vriendelik behandel. Ons is uiteindelik in besit van die nodige permit teen ‘n koste van 2400 Kwanza (10 Kwanza = R1) per voertuig.
Die pad tot op Ondjiva is nie sleg nie maar daarna begin dit al hoe erger word en ons maak die eerste keer kennis met wat ons later as ‘n 2de en 3de rat pad gedoop het.
Ons slaap die aand langs die pad in ‘n natuurlike holte by ruitverwysing S16.56110 E14.87633 ongeveer 70 km suid van Cahama.

4 Junie – Hoe nader ons aan Lubango kom hoe beter word die pad .By ruitverwysing S15.88280 E14.13220 ongeveer 48 km noord van Cahama gaan ons verby wat so tussen die slaggate deur lyk na ‘n nuwe gemeenskapskampterrein. Ons bereik Palanca Negra Lodge(S15.04751 E13.45558) 6 km af van die pad na Humpata, ongeveer 4uur die middag en vir ‘n “nominale” fooi van US$10 pppn kry ons staanplek in die Lodge gronde en die gebruik van ‘n badkamer in een van die hutte. Die warmwater stort is baie welkom want DIS KOUD. (1868m bo seevlak). Die restaurant se pryse is so’n groot skok dat ons eet sommer pasta by die voertuie eet.

5 Junie – Eers dorp toe om geld te ruil. Ons sou later hoor dat ons eintlik moet langbroeke dra as ons na ‘n bank gaan, iets wat Derek al in Kaapstad by die Konsulaat raakgeloop het – hulle wou hom nie met ‘n kortbroek aan toelaat nie. Ons gooi diesel (gasôleo) in teen 29 Kwanza per liter en gaan soek na die waterval buite die dorp (S14.84246 E13.40561).

Image

Lekker plek vir ‘n piekniek en moontlik kamp as die wind nie so waai nie. Ons besluit om maar terug te gaan Palanca Negra toe en oppad gaan kyk ons na die Christusbeeld (S14.94031 E13.51161).

Image

Die afdraai is net buite Lubango oppad na Humpata. Die beeld is indrukwekkend en vandaar het mens ‘n wye uitsig oor Lubango wat vir ons na Luanda na een van die die meer vooruitstrewende plekke in Angola gelyk het. Voor ons teruggaan kamp toe besoek ons eers die Dorslandtrek gedenknaald (S15.00843 E13.38201) en een van die begraafplase van die Dorslandtrekkers (S15.00895 E13.40992). Laasgenoemde is in ‘n hedendaagse mielieland met spilpuntbesproeiing.

Image

6 (en 7)Junie – Die pad is mooi en vroegoggend kom ons by een van die hoogtepunte van die toer – die Lebapas (S15.07112 E13.24884).

Image

Betaal geringe tol (+/- R15)en swaai eers links na die uitkykpunt waarvandaan mens die pas in al sy glorie kan bewonder. Drink ons eie tee (daar is ook ‘n restaurant) en bewonder die pas, die uitsig en die witkruisarende wat oor die afgrond sweef. Ry af met die pas en verder tot op Namibe. Stop vir die eerste keer by ‘n mark langs die pad en vind dat anders as in die res van Afrika is vrugte relatief duur – papaja R20 en groenmielies R10 vir 1. Namibe is ‘n mooi kusdorp en dit is dalk die moeite werd om daar oor te bly.

Image

Daar is ‘n kampeerterrein op die strand wat toegespan is, maar net koue storte. Dit was nog vroeg en ons besluit om liewers aan te ry na Pedra strand (S14.88646 E12.21362). Die uitdraai na Pedra is by S14.94364 E12.35692. By Forado (S14.73555 E12.28497) is daar ook kampplek en in Namibe het ons kontak gemaak met die eienaar. Die kamp was gesluit vir die tyd toe ons daar was en dit is beter om vooraf te skakel met Awarito Baptista E pos info@omauha.com.Op Pedra het ons vir twee nagte ontspan en dit was heerlik om net te rus en bietjie kragte op te bou vir wat voorlê.

Image

8 Junie – Ons ry met die EN100 langs die kus op en die pad is redelik tot op Bentiaba.

Image

Kry daar brood en waswater. Na Lucira begin die “sports” en ons vorder tot duskant Santa Maria en maak boskamp in ‘n droë rivierloop (S13.41980 E12.68304).

9 Junie – Ons vorder 40 km in 4 uur – die een “Vanzylspas” na die ander. Moet pad pak want vragmotors het op gery, al die klippe uitgeskop en groot stukke rubber van hul bande agtergelaat. Vanaf Dombe Grande gaan dit beter en ons kry slaapplek by Baia Farta voor ‘n verlate nuwe skoolgebou naby die strand.

Image

10 (en 11) Junie – Ry deur Benguela – baie mooi dorp – en Lobito waar ons ‘n ompad deel met taxis en vragmotors want die brug kan net motorfietse hanteer. Lobito is vol stof maar mense gaan kerk toe in hul wit klere. Koop net een roomys (Solero) vir R25. Kom laat middag by Cabo Ledo (S9.66474 E13.22331) ongeveer 300km anderkant Lobito, aan. Dit is ‘n pragtige plek en Senhor Amilcar Queiroz ‘n gawe gasheer – hy was in die Suid Afrikaanse weermag en het baie stories oor sy ondervindinge. Slaap in hutte teen 4000 Kwanza pppn vir 2 nagte. Ongelukkig net koue storte. Daar is ook kampplek maar ons skuld onsself ‘n bietjie bederf.

Image

12 Junie – Ry tot by Foz do Quanza. Quanza rivier baie mooi, tolgeld oor brug 300 Kwanza. Bruce Bennett (ex Zim) is die bestuurder en Manny (ex RSA) behartig die restaurant. Slaap in lodge teen US$ 125 pppn (etes ingesluit). Bruce beplan ook ‘n kampplek maar sal miskien eers volgende jaar reg wees. Kontak www.aasafaris.com of E-pos bruce @ aasafaris.com Sel +244912440052.

Image

13 Junie – Ry na ontbyt en soek eers die Shoprite in die Belas inkopiesentrum. Dit is ‘n splinternuwe ontwikkeling en te oordeel aan die pryse wil hulle als in een jaar betaal – 1Kg tamaties R80, vleis R120-R150 per kg. DAN TREF ONS LUANDA MIDDESTAD. 30 km in 3uur en as dit nie vir Derek se GPS met Tracks4Africa inligting op nie het ons baie langer gesukkel. Daar is geen werkende verkeersligte nie, baie sirkels en 6 bane verkeer vanuit 3 rigtings wil almal saam om die sirkel gaan. Uiteindelik is ons deur, kry brandstof en ry tot op Barre do Dande met’n lekker nuwe teerpad. Hier is ‘n mooi amptelike kampplek langs die see maar dit is net van Vrydag tot Sondag oop. Ons ry dus verder in die rigting van Nzeto en die lekker pad is gou vergete want ons is terug op ‘n 2de/3de rat pad. Dit raak laat en ons draai af tot by ‘n klein dorpie waar die vriendelike polisie kommandant ons toelaat om in die skoolgronde te slaap wat omhein is (S8.20250 E13.36574). Hy wil geen geld aanvaar nie en ons skenk ‘n paar penne aan die skool. By die vistermanne naby Quanza Lodge het ons die oggend 4 tongvisse vir R60 gekoop en die aand braai ons hulle. Dit stel ‘n nuwe maatstaf vir tongvis op. Baie lekker.

Image

14 (en 15) Junie – Kom uiteindelik op Nzeto aan en amper amper besluit ons om die tweespoor pad wat baie mooi lyk, oos in die rigting van Uige te vat en van Soyo te vergeet. Ons druk egter deur maar vanaf daardie punt tot waar ons afdraai na die kus by S7.00943 E13.06283 (Cassa da Telha/Lusenga) ry ons die slegste pad in die hele Angola – 1ste /2de rat. Kom uiteindelik by ‘n dorpie Mucula naby die kus en’n vriendelike Hoofman (Chef) ry saam om ons die beste plek op die strand te wys waar ons kan kamp. (S6.96731 E12.81429) Foto 4 Ek het die Chef eers teruggevat en dit lyk asof hy die kommersiële waarde van die kampplek goed besef want hy vereis ‘n betaling van Kwanza 2000. Die kamp tussen die palms op die strand is dit egter werd en ons bly sommer 2 nagte. Koop en braai weer vis.

16 Junie – Ry na Soyo. Die pad word gaandeweg beter en vanaf ‘n olieontgunningspunt is dit sommer goed (en geskraap). Bly sowat ‘n uur in Soyo, kyk na die Kongorivier, gelukkig kry ons brandstof (nie altyd beskikbaar nie), koop drinkwater en besluit om die pad suid te begin. Oppad na Mucula het ons twee Belge in ‘n gruisput (quarry) opgemerk, bietjie met hulle gesels en besluit ons sal die aand oppad terug ook daar gaan slaap. (S6.96084 E12.96931)

17 Junie – Ons weet wat in die begin voorlê tot ons afdraai na Uige en begin dus vroeg. Die tweespoor pad is toe soos ons gedink het en dit is lekker om te ontspan in 4de rat en die omgewing te geniet. Die bos word al hoe mooier en ons hou stil, neem fotos, drink tee en geniet dit.

Image

Ons ry deur baie klein dorpies maar ongelukkig word die pad een van daai wat jy baie in Afrika teekom – jy kan sien net voetgangers en fietse het onlangs hier gerloop en gery.

Image

Ry verby Kindeje en toe begin die moeilikheid. Vragmotors uit Uige se rigting het die pad verander in twee diep spore met ‘n hoë middelmannetjie. Ek is voor en hak tweekeer vas (Derek moet my uitpluk) voor ons op S7.19325 E13.88060 by ‘n moddergat van omtrent 40 meter kom. Ek probeer maar hak weer vas en ons besluit om in die dorpie net voor dit te slaap vir die aand. Die hoofman is vriendelik en ons kry ‘n staanplek aan die kant van die dorp. Hy (die hoofman) bring egter sy stoel en saam met die hele dorp sit en staan hulle en beskou ons doen en late. Foto 6 Later verduidelik ek aan hom dat die meisies wil was en gelukkig verstaan hy my gebrekkige Portugees en ons kan sonder ‘n “audience” verder aangaan. Die hoofman het later vir ons ‘n skottel nartjies present gebring. Na kajuitraad die aand besluit ons dat ons liewers moet omdraai terug Nzeto toe.

18 Junie – Die hoofman sien ons vroeg af en ons is omtrent 1uur die middag terug op Nzeto. Dit was lekker om die mooi bos weer te sien en dit het die tweekeer ry die moeite werd gemaak. Die polisieman by Ponta Freitas Morna is die eerste en enigste nors beampte wat ons op die hele toer teekom. Kom laataand op Ambriz aan en reël deur die polisie om by die strand te slaap. Daar is nuwe ontwikkelings op Ambriz en ‘n groot gebied langs die kus is plat gestoot. Ons land op ‘n ou tennisbaan (S7.84458 E13.10104) en kamp lekker met fosfor op die golwe en die kwart maan en Venus bymekaar in die weste. Net na ons klaar in die donker gestort het verskyn twee polisiemanne om te hoor of als reg is en hul verseker ons dat ons veilig sal wees.

Image

19 Junie – Ry deur Ambriz. Moes ‘n mooi dorp in sy fleur gewees het. Kry waswater by die polisie en skenk 1000 Kwanza want die offisier se selkaart het nie meer tyd op nie. Kry lekker vars gebakte brood op Barre de Donde by ‘n nuwe plek net suid van die brug. Draai weg (oos) op ‘n nuwe teerpad by Cacuaco na Catete. Gooi brandstof in en slaap die aand in nog ‘n gruisput (S9.27840 E14.21416) ongeveer 70 km voor (noordwes) Dondo.

20 Junie – Na meer as 500 km kom ons net voor sononder op Huambo. Baie konstruksie werk op die pad maar ry voorspoedig. Slaap in Hotel Nino teen US$120 pppn bed en ontbyt. Huambo is baie verniel gedurende die oorlog en die tekens is nog alles daar. Sommige geboue is alreeds opgeknap maar die paaie en die dorp is nog baie deurmekaar. Daar is brandstof en ‘n algemene handelaar in dieselfde straat as die hotel.

21 Junie – Gelukkig is die hotel op die pad wat ons moet ry oos na Kuito toe. Die pad tot waar ons suid afdraai duskant Kuito na Chitembo is goed maar die meer as 100 km na Chitembo is weer 2de/3de rat pad. Ons kry ‘n gruisgat (S13.28295 E16.74504) vroeg middag en dog ons sal ongemerk daar insluip maar dit was nie lank nie of die toeskouers arriveer. Gelukkig nie baie nie maar die hoofman en sy sekretaris het ook ‘n draai gemaak en na vele minute se luister na ‘n toespraak in Portugees, kom ons agter ons moet Kwanza 100 betaal om daar te kan slaap. Dit was ons slegste kampplek – koud, ongelyk en baie los grond - en ons was bly om vroeg die volgende oggend in die pad te val.

22 Junie – Die pad bly dieselfde tot op Menongue. Kry brandstof maar geen brood of waswater nie en val in die pad Cauindo toe. Hier is dit duidelik dat die oorlog bygedra tot die toestand van die land se paaie. Vele wrakke lê langs die pad en by elke wrak is ‘n groot slaggat.

Image

80% van die pad is egter nie sleg nie en vroegmiddag merk ons ‘n plaas langs die pad wat lyk of daar nuwe ontwikkelings is. Draai af en maak kennis. Ons wou sommer by die beeskraal onder ‘n koelteboom kamp maar toe die “Gerente” – bestuurder - arriveer wou hy niks daarvan weet nie en hy neem ons na die Cuebe rivier oewer waar hulle besig is om ‘ n ou kamp weer op te knap. Die plek – Boa Esparanza (S15.21238 E17.69417) – behoort aan Generaal Ezebio wat op Menongue aan hoof van die weermag is. Sy bestuurder Senhor Nunes, het ons gul ontvang en wou geen vergoeding aanvaar nie. Die volgende oggend het ons vir hom ‘n pakkie Suid-Afrikaanse blikkieskos gegee en ons is groot vriende uitmekaar.

Image

23 Junie – Voor Caiundo kry ons ‘n brug oor die Cubango wat ‘n gewigsperk van 4 ton het. Vat die pad suid langs die rivier af en moet Kwanza 1000 per voertuig tol betaal om die pad te gebruik. Die polisieman by die tolversperring besluit toe hy het ook Kwanza 1000 nodig. Dit was die enigste keer wat iemand duidelik net geld gevra het vir geen dienste gelewer nie. Die pad begin mooi maar verander gou in ‘n poeierstof slaggate gemors en ons gebruik elke ompad wat ons kan kry. Die rivier is baie mooi maar jy kan nie veel kyk nie want die pad het al jou aandag nodig.Slaap die aand langs die rivier by ‘n aangename kampplek (S16.67837 E17.87485) nadat ons die gebruiklike toestemming gevra het by die Chef van die naaste dorpie.

24 Junie – Kom 12:30 by die grens op Katwitwi. Geen probleme, baie stil grenspos op ‘n Sondag. Daar wag baie vragmotors om oor die grens te gaan en ons was baie gelukkig om die pad na die grens op ‘n Sondag te ry.Namibië is besig om ‘n nuwe grenspos te bou en ons word vriendelik in Engels ontvang deur die amptenare. Ry op ‘n lekker Namibiese grondpad tot 10 km voor Rundu en geniet 2 heerlik nagte by die Samsitu kampplek (S17.84986 E19.66953) teen N$50 pppn. Eet ontbyt by die Hakusembe Lodge langsaan, ry op die rivierboot en kry al die Angola slaggat kreukels en kinkels uit ons lywe uit.

Nabetragting:

1. Groot dele van die natuur in Angola is soos Zambië of Kaokoveld maar die kusstrook is besonder en baie mooi. Versteende duin kranse, warm see, woude kremetart- en nabome en interessante dorpe en riviere. Oos van Nzeto is die half tropiese woude net so mooi.
2. Die Chinese is hard aan die werk om die paaie en brue oor te maak en dit sal seker nog ‘n jaar of drie vat voor mens meesal op goeie teerpaaie kan ry.
3. Daar is min toeristefasiliteite maar aan die ander kant is die mense vriendelik en jy kry maklik slaapplek as jy eers die Portugees baas geraak het om die Chef of die polisie te vra waar kan jy slaap.
4. Soos dit met Afrika toere gaan doen mens dit tot ‘ n groot mate vir vir uitdaging wat dit bied en dit is ‘n uitdaging.
5. Maar op die einde as jy veilig terug is weet jy dat jy ‘n herinnering geskep het wat jou baie sal laat terugdink en weer die lang pad sal laat vat iewers anders heen want half en half soos die Dorslandtrekkers is swerf in jou bloed.

Wenke:

1. Beplan deeglik en kry soveel inligting as wat jy kan.
2. Leer ten minste die meeste dinge wat jy oor navraag gaan doen in Portugees.
3. Maak afskrifte (so 5) van al jou papiere en lisensies. Jy mag dalk net ‘n beampte teekom wat dit sal verlang.
4. Die voertuie se vering, bande en onderstel moet baie goed wees. Jou vrag moet stewig gepak en vas wees.
5. Moet nie haastig raak nie. As ‘n plek mooi is staan oor en rus waar jy kan.
6. Pasop vir voetgangers (veral kinders) en soos gewoonlik in Afrika vir die diere.
7. Geniet dit terwyl jy daar is al is die slaggate hoe diep.

Pieter Rossouw

082-873-4086

Warmbad

Return to “Angola”

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest