Hoe sien jy die saak?

Hier deel ons stories, twak, nostalgie en sommer baie grappe. Dit is hier waar die middeljarige Afrikaner op 'n amusante manier vir ons 'n terugblik kan geen op al die snaakse dinge wat op Safari gebeur het. Of toe jy nog in die weermag was. Daar is nie 'n beperking op die onderwerp nie. Hou die taalgebruik skoon en vermy telegram styl skryf (soos die verkorte woorde wat mens deesdae per SMS ontvang). Gaan mal en geniet dit !

Kagiso

Hoe sien jy die saak?

Postby Kagiso » Tue Jan 11, 2011 1:39 am

Vriend van my wy sy lewe aan Uitreik Bediening [en sy gesin] - Laat laasjaar stuur hy my hierdie "Brief aan 'n vriend" - ek vind dit so kosbaar, ek deel dit graag met die forum.
[Ds Gawie se altoos: "Ek gee die inligting vir jou, wat jy daarmee maak, is 'n saak tussen jou Die Here" - ek dink ek begin hom vertsaan]
groete
Mac

Was net voor ons vertrek uit Upington dat ‘n vriend my gelukwens met die gratis vakansie op Lambertsbaai. Dis nou die stranddiens sien. Ek het hom nie geantwoord nie. Maar my hart het so slag oorgeslaan van die seerkry. Want hy weet nie. Daarom het ek gedink om die briefie vir hom te skryf net dat hy kan weet!

Hy weet nie van ‘n jaar se voorbereiding nie. Hy weet nie van Maandae middae wanneer hy voor sewende laan sit, is ons besig is met die voorbereiding van die kinders nie. Jy kan nie met kinders in die span sit wat nie ‘n persoonlike verhouding met God het nie. Kinders moet ook weet hoe om ‘n geestelike gesprek aan te voor en deur te voer.

My arme vriend weet ook nie dat die span sesuur soggens al opstaan om gereed te kom vir die dag nie. Tussen ses en agt moet veertig mense deur drie storte, ontbyt maak en eet, skottelgoed was, die saal en toilette skoonmaak en gereed wees om die dag te begin met Bybelstudie gelei deur die plaaslike predikant. Nege uur word die twee voertuie gelaai met alle toerusting om die twee poppekaste te gaan doen. Een vir die kinders by die vakansieoord, en een in die bruin woongebied.

Hy weet ook nie dat (soms stout) kinders by karavane en huise gehaal word, en dat die ouers verwag dat hulle weer veilig daar afgelewer moet word nadat die spanlede hulle die oggend besig gehou het nie.
Hy weet nie dat net ses spanlede tot drie honderd kinders in die woongebied moet hanteer, beheer en leer nie.

Hy weet nie dat die spanlede wanneer hulle om twaalf uur terugkeer net een uur tyd het vir persoonlike Bybelstudie voordat dit weer etenstyd is, skottelgoed was, en gereedmaak vir die middag se strand-spele nie. Hy dink die strand-spele is sommer net pret. Maar hy weet nie dat dit die plek is waar spanlede vriendskappe sluit, vertroue wen en geestelike gesprekke voer nie. Hy weet ook nie wat kos die toerusting vir die spele nie. Toerusting wat deur die leiers uit eie sak gekoop word.

Die ander span is terselfdertyd weer in die woonbuurt waar ‘n Evangelisasie kursus vir tieners aangebied word. Maar vriend sal nie weet nie, drie uur middag neem hy sy middag slapie sien. Ek gun hom sy slapie, want net soos ons het hy hard gewerk deur die jaar.

Vieruur, half vyf se kant kom ‘n baie moeë span terug om te kom voorberei vir die aand. Terwyl sommige kos voorberei, maak ander die saal skoon, vloere word elke aand gemop, tafels en stoele word reggeskuif, dramas en danse geoefen, liedere voorberei, more se poppekaste geoefen, want Oom Johan duld nie halfgebakte opvoerings nie.

Sesuur moet almal vinnig eet, die skottelgoed moet voor seweuur gewas wees sien, almal moet skoon en reg aangetrek wees vir die aand. Seweuur gaan sommige uit om bemarking te doen, terwyl ander die laaste oefening gou doen. Leiers kom bymekaar om te bid vir die sukses van die aand. Om te bid dat die Liefde van Jesus deur elke spanlid sal vloei sodat God daardeur verheerlik kan word.

Agtuur en honderd jongmense stroom die saal binne. Vir twee ure word hulle besig gehou. Moet tog net nie vir ons preek nie! Verkondig die Woord van God sonder om te preek, nie so eenvoudig nie nè. Om die tafels met ‘n koppie koffie in die hand is die regte tyd om nou regtig te gesels, diep dinge te gesels. Jong mense maak harte oop teen jong mense. Die leiers meng nie in nie maar moet heeltyd teenwoordig wees om oog te hou. Die duiwel is listig sien.

Tienuur, uiteindelik is die dag klaar! Verkeerd. Die koffie koppies moet weer gewas word, waar die besoekers op die saal vloer gemors het moet opgevee word, sommige kinders moet huis toe geneem word. Nou kan ons gaan slaap. Nog steeds nie, nou word daar eers kringetjie gemaak, daar word “gedebrief”. Spanlede moet geleentheid kry om hart uit te praat. Deur die dag het hulle soveel dinge ervaar, soms soveel van ander jongmense se pyn in hul eie harte geneem, daar moet geleentheid wees om self te ontlaai.

Ja, en miskien het spanlede onderling binnegevegte gehad deur die dag. Dit moet uitgepraat raak, die span eenheid kan nie bedreig word deur nietige gevegte nie. Ook die positiewe word uitgebring. “Vandag het twee kinders hulle harte vir die Here gegee!” O, en dan word die baloskar uitgedeel. Die spanlid wat die domste ding gesê of gedoen het deur die dag kry ‘n baloskar. Sommer net vir die pret.

O nou kan ons gaan slaap, maar party spanlede moet eers wakker gemaak word om te gaan slaap want dis dan al oor twaalf, en sesuur môreoggend sit Juffrou al weer die musiek aan. En dan begin die dag van vooraf. Sondae kan ons darem tot sewe uur slaap.

Maar hoekom doen ons dit? Hoekom gebruik spanleiers twee weke van hulle persoonlike verlof vir stranddienste. Hoekom neem die leiers die verantwoordelikheid vir meer as dertig jong mense op hulle skouers?

Kom my Liewe Vriend ek vertel jou. Na twee weke neem al tagtig kinders uit die woonbuurt wat die evangelisasie kursus gedoen het die Here Jesus aan as hulle verlosser en Saligmaker. Kinders wat miskien nêrens anders die geleentheid sou kry om juis dit te doen nie. Verder is hierdie kinders is ook toegerus om self die evangelie verder te verkondig.

Voor die koffiekroeg begin, hoor ek ‘n gesprek tussen drie jong mense voor die saal. Twee wil disko toe gaan, een sê: “Gaan julle maar, ek bly hier!” Toe bly aldrie. Ander jongmense kom sê dankie, want behalwe die disko en die koffiekroeg is daar nie eintlik iets wat jongmense saans kan doen nie, en by die koffiekroeg kry hulle darem liefde. Ouers sê dankie want hulle weet nou waar hulle kinders is, en hulle is nie bekommerd nie.

Nog jongmense vra of ons nie maar nog ‘n week wil bly nie, die koffiekroeg beteken vir hulle so baie.

Maar die heel belangrikste rede hoekom ons dit doen Liewe Vriend is: “Ek kan nie anders nie, die liefde van Christus Jesus dring my!” Aan Hom al die eer!

My Liewe Vriend, dit is dan ons gratis vakansie. Wil jy dalk volgende jaar saamkom? Daar is nog plek in die span. O, ja, Liewe Vriend, dankie vir die honderd Rand wat jy bygedra het tot ons gratis vakansie, ons waardeer dit regtig, en ek belowe jou dit is goed gebruik in ons Vader se diens.

Groete in Jesus Naam
Jou vriend Missio Dei

Return to “Stories, Humor, Grappe en Kwinkslae”

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest